Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:19-36 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. Hulle het vir mekaar gesê: “Let op, die meester van drome kom!

20. Kom nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en ons sal sê: “’n Wilde dier het hom opgeëet’ en ons sal sien wat van sy drome word.”

21. Re’uven het dit gehoor en hy het hom uit hulle hand gered deur te sê: “Laat ons hom nie doodslaan nie.”

22. Re’uven het ook vir hulle gesê: “Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die wildernis is, maar moenie die hand aan hom slaan nie” sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.

23. Dit het so gebeur dat toe Yosef by sy broers kom, hulle Yosef se kleed uitgetrek het; die lang kleed met lang moue wat hy aangehad het;

24. hom gevat en in die put gegooi het. Die put was leeg; daar was geen water in nie.

25. Hulle het gaan sit om brood te eet en hulle het hulle oë opgelig en let op, hulle het ’n karavaan Arabiere gesien wat uit Gil’ad kom; hulle kamele gelaai met aromatiese gom, balsem en mirre op pad om dit af te vat na Mitzrayim.

26. Toe sê Y’hudah vir sy broers: “Watter voordeel is daar as ons ons broer doodmaak en sy bloed wegsteek?

27. Kom, laat ons hom aan die Yishma’eliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees.” Sy broers het saamgestem.

28. Toe die Midyanitiese handelaars verbykom, het hulle Yosef opgetrek en uit die put uitgehaal en Yosef aan die Arabiere verkoop vir twintig stukke silwer. Húlle het Yosef na Mitzrayim gevat.

29. Re’uven het by die put teruggekom en let op, Yosef was nie in die put nie en hy het sy klere geskeur

30. en na sy broers toe teruggegaan en gesê: “Die seun is nie meer daar nie en ek, waar moet ek heen?”

31. Hulle het Yosef se kleed gevat, ’n boklam geslag, die kleed in die bloed gedruk

32. en die lang kleed met lang moue weggestuur en na hulle vader laat bring met die woorde: “Dit het ons gekry. Kyk asseblief goed of dit die kleed van u seun is of nie.”

33. Hy het dit herken en gesê: “Dit is my seun se kleed! ’n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Yosef!”

34. Ya’akov het sy klere geskeur en ’n sak aangetrek om sy heupe en hy het baie dae lank oor sy seun gerou.

35. Al sy seuns en al sy dogters het opgestaan om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: “Nee, treurende sal ek na my seun in Sh’ol afdaal!” So het sy vader oor hom gehuil.

36. Die Midyaniete het hom in Mitzrayim verkoop aan Potifar, ’n offisier van Farao, die bevelvoerder van die wag.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37