Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9:16-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Die ander Y’hudahiete wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; hulle het onder dié wat hulle haat vyf en sewentig duisend gedood, maar nie hulle hande aan die buit gesit nie.

17. Hulle het begin op die dertiende dag van die maand Adar en op die veertiende daarvan het hulle gerus

18. en dit ’n dag van feesviering en vreugde gemaak;

19. daarom maak die Y’hudahiete wat verstrooi is en in ver verwyderde dorpe bly, van die veertiende dag van die maand Adar ’n dag van vrolikheid en feesviering en ’n goeie dag waarop hulle vir mekaar porsies kos stuur.

20. Mordekhai het hierdie dinge neergeskryf en briewe gestuur aan al die Y’hudahiete wat in al die provinsies van koning Agashverosh was, naby en ver,

21. om ooreen te kom dat hulle die veertiende dag en die vyftiende dag van die maand Adar jaarliks moet vier

22. as die dae waarop die Y’hudahiete gerus het van hulle vyande en die maand wat vir hulle van smart tot vreugde en van rou tot ’n feesdag verander is en dat hulle dit dae van feesviering en vreugde moet maak en porsies kos vir mekaar stuur en geskenke vir die armes.

23. Die Y’hudahiete het dit aanvaar om te doen soos hulle begin het en soos Mordekhai vir hulle geskryf het,

24. want Haman, die seun van Hammedatha, die Agagiet, vyand van almal van Y’hudah, het beplan om hulle uit te roei en het die lot (pur) gewerp om hulle te vernietig en uit te roei.

25. Toe Ester voor die koning gekom het, het hy laat neerskryf: “Laat die bose plan wat teen die Y’hudahiete gesmee is, terugkeer op die kop van hom wat hulle beplan het en laat hy en sy seuns aan die galg opgehang word;”

26. daarom noem hulle dié dae Purim, volgens die woord pur (lot). As gevolg van al die woorde van die brief en wat hulle aangaande die saak gesien het en wat oor hulle gekom het,

27. het die Y’hudahiete dit vasgestel vir hulleself en hulle nageslag en vir almal wat by hulle sou aansluit sodat hulle nie sal faal om hierdie twee dae te hou volgens wat geskryf is en volgens die vasgestelde tyd elke jaar nie

28. en dat hierdie dae onthou en gehou moet word deur al die geslagte in elke provinsie en stad en dat hierdie dae van Purim nie ophou onder die Y’hudahiete nie en hulle herdenking nie ophou onder hulle nageslag nie.

29. Toe het Ester, die koningin, dogter van Avigayil en Mordekhai, die Y’hudahiet, met alle outoriteit geskryf om hierdie brief aangaande Purim te bekragtig

30. en hulle het briewe aan almal van Y’hudah gestuur in die honderd sewe en twintig provinsies in die koninkryk van Agashverosh, met woorde van waarheid en vrede,

31. om hierdie dae van Purim op hulle vasgestelde tye te bevestig, soos wat Mordekhai, die Y’hudahiet en Ester, die koningin, dit vasgestel het vir hulle en vir hul nageslag; om die voorskrifte aangaande hulle vas en hulle gebede te gee.

32. Die bevel van Ester het hierdie voorskrifte vir Purim bevestig wat in ’n boek geskryf is.

Lees volledige hoofstuk Ester 9