Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:8-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Toe het Farao Moshe en Aharon laat roep en gesê: “Tree in by יהוה sodat Hy die paddas van my en van my volk af sal wegvat en ek sal die volk laat gaan sodat hulle aan יהוה kan offer.”

9. Moshe sê vir Farao: “U het die eer bo my om vir my te sê watter tyd moet ek vir u en u diensknegte en vir u volk intree sodat die paddas van u en vanuit u huise uitgeroei word om net in die rivier oor te bly?”

10. Hy antwoord: “Teen môre.” Toe sê hy: “Dit sal wees volgens u woord sodat u kan verstaan dat daar niemand is soos יהוה, ons God, nie.

11. Die paddas sal u, u huise, u diensknegte en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.”

12. Moshe en Aharon het van Farao af weggegaan en Moshe het tot יהוה geroep aangaande die paddas wat Hy oor Farao gebring het.

13. יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: die paddas het doodgegaan uit die huise, van die voorhowe af en uit die veld

14. en hulle het dit in hope bymekaargemaak en die land het gestink.

15. Toe Farao egter sien dat daar verligting is, het hy sy wil, emosie en verstand verhard en nie na hulle geluister nie, soos יהוה gesê het.

16. יהוה sê vir Moshe: “Sê aan Aharon: steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde sodat dit muggies word oor die hele land van Mitzrayim.”

17. Hulle het so gedoen: Aharon het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan en daar het muggies gekom op die mense en op diere. Al die stof van die aarde het muggies geword in die hele land van Mitzrayim.

18. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle geheime kunste om muggies voort te bring, maar hulle kon nie en die muggies was op die mense en op die diere.

19. Toe sê die towenaars vir Farao: “Dit is die vinger van God!” Farao se wil, emosie en verstand was egter onveranderlik sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos יהוה gesê het.

20. יהוה sê vir Moshe: “Staan môre vroeg op en staan voor Farao wanneer hy na die water toe uitgaan en sê vir hom: so sê יהוה: ‘Laat My volk gaan sodat hulle My kan dien,

21. of anders, as jy My volk nie laat gaan nie, let op, Ek sal swerms vlieë teen jou, teen jou diensknegte, teen jou volk en teen jou huise laat kom sodat die huise van die Mitzrayiete vol vlieë sal wees en selfs die grond waarop hulle staan.

22. Op dié dag sal Ek die land Goshen, waarin My volk woon, afsonder sodat daar geen swerm vlieë sal wees nie sodat jy kan weet dat Ek, יהוה, in die wêreld is.

23. Ek het ’n skeiding gestel tussen My volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.’”

24. יהוה het so gedoen: dik swerms vlieë het in die huis van Farao, in die huis van sy diensknegte en in die hele land van Mitzrayim gekom; die land het verval as gevolg van die swerms vlieë.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8