Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:16-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. en jy sal van sy dogters vat vir jou seuns en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.

17. Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.

18. Jy moet die Fees van Ongesuurde Brode hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die vasgestelde tyd in die maand Aviv, want in die maand Aviv het jy uit Mitzrayim uitgekom.

19. Alles wat die baarmoeder oopmaak, is Myne en elke eersteling van jou vee wat manlik is, van beeste en kleinvee,

20. maar die eersteling van ’n donkie moet jy met ’n lam loskoop en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop en niemand mag met leë hande voor My verskyn nie.

21. Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus; selfs in die ploegtyd en in die oestyd, moet jy rus.

22. Jy moet die Fees van Weke hou, die fees van die eerstelinge van die graan-oes en die Fees van Insameling, by die wisseling van die jaar.Hand 2:1

23. Al jou mans moet drie maal per jaar voor die Teenwoordigheid van die Meester יהוה, God van Yisra’el, verskyn,

24. want Ek sal nasies voor jou uitdryf en jou grondgebied vergroot en niemand sal jou land begeer terwyl jy opgaan om te verskyn voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, drie maal gedurende die jaar, nie.

25. Jy mag nie die bloed van My offer saam met gesuurde brood bring nie en die offer van die Pesag mag nie tot die oggend toe oorbly nie.

26. Die eerstes van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van יהוה, jou God, bring. Jy mag nie ’n jong bokkie kook in sy moeder se melk nie.”

27. יהוה het ook vir Moshe gesê: “Skryf hierdie woorde neer, want volgens hierdie woorde het Ek ’n verbond gesluit met jou en met Yisra’el.”

28. Hy was daar by יהוה veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie en Hy het die woorde van die verbond op die tafels geskryf: die tien woorde.

29. Dit het gebeur toe Moshe van die berg Sinai afkom (die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moshe toe hy van die berg afgekom het) dat Moshe nie geweet het dat die vel van sy gesig geskyn het omdat Hy met hom gepraat het nie.

30. Toe Aharon en al die seuns van Yisra’el Moshe sien, het die vel van sy gesig geskyn en hulle was bang om naby hom te kom.

31. Moshe het hulle geroep en Aharon en al die leiers van die vergadering het na hom toe teruggekom en Moshe het met hulle gepraat.

32. Na dit het al die seuns van Yisra’el nader gekom en hy het hulle alles beveel wat יהוה met hom gepraat het op die berg Sinai.

33. Toe Moshe klaar met hulle gepraat het, het hy ’n sluier oor sy gesig gesit,

34. maar wanneer Moshe voor יהוה ingegaan het om met Hom te praat, het hy die sluier afgehaal totdat hy uitgaan. Hy het uitgegaan en vir die seuns van Yisra’el alles gesê wat hom beveel is.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34