Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:15-35 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Moshe het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand. Die tafels was op altwee kante geskryf; hulle was op die een en op die ander kant geskryf.

16. Die tafels was die werk van God en die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.

17. Toe Y’hoshua die stem van die volk hoor, hoe hulle juig, sê hy vir Moshe: “Daar is die geluid van oorlog in die kamp.”

18. Hy antwoord: “Dit is nie die klank van die gejuig van oorwinning nie en ook nie die geskree van neerlaag nie: ek hoor die klank van singery.”

19. Dit het gebeur dat toe hy naby die kamp kom en die kalf en dansery sien, die woede van Moshe ontvlam het en hy die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder die berg gebreek het.

20. Hy het die kalf gevat wat hulle gemaak het, dit met vuur verbrand, dit fyn gemaal, dit op die water gestrooi en die seuns van Yisra’el dit maak drink.

21. Moshe het vir Aharon gesê: “Wat het hierdie volk aan jou gedoen dat jy so ’n groot sonde oor hulle gebring het?”

22. Aharon antwoord: “Laat die woede van my meester nie ontvlam nie. U ken self die volk dat hulle gerig is tot boosheid,

23. want hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uittrek, want hierdie Moshe, die man wat ons uit die land van Mitzrayim laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.’

24. Ek het vir hulle gesê: ‘Wie goud het, laat dié dit afbreek!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi en hierdie kalf het daaruit gekom.’”

25. Toe Moshe sien dat die volk sonder beheer was, want Aharon het hulle losgelaat; tot die spottende gefluister onder hulle teëstanders;

26. het Moshe in die poort van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vír יהוה is, kom na my toe!” Al die seuns van Levi het by hom bymekaargekom.

27. Hy het vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Laat elkeen sy swaard aan sy sy sit. Gaan heen en weer van poort tot poort in die kamp en laat elkeen sy broer, sy vriend en sy naaste doodmaak.’”

28. Die seuns van Levi het gedoen volgens die woord van Moshe en daar het op dié dag omtrent drie duisend man van die volk geval.

29. Moshe het gesê: “Maak vandag julle hande vol tot יהוה sodat Hy vandag ’n seën oor julle kan gee, want elkeen is teen sy seun en teen sy broer.”

30. Dit het gebeur op die volgende dag dat Moshe vir die volk sê: “Júlle het ’n groot sonde gedoen en nou sal ek opgaan na יהוה: miskien kan ek toedekking vir julle sonde doen.”

31. Moshe het na יהוה teruggegaan en gesê: “O, hierdie volk het ’n groot sonde gedoen en vir hulle ’n goue god gemaak.

32. Tog, nou, as U wil, verwyder hulle sonde en indien nie, bid ek, vee my uit, uit U boek wat U geskryf het!”

33. יהוה het Moshe geantwoord: “Wie ook al teen My gesondig het, dié sal Ek uitvee uit My boek;Open 20:12-15

34. daarom, gaan nou en lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. Let op, My engel sal voor jou uitgaan, maar nogtans, die dag as Ek besoek, sal Ek hulle straf vir hulle sonde.”

35. יהוה het die volk getref omdat hulle die kalf, wat Aharon gemaak het, aanbid het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32