Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:8-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Selfs by Horev het julle יהוה uitgetart tot woede sodat יהוה so kwaad was vir julle dat Hy julle sou vernietig het.

9. Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond, wat יהוה met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly. Ek het geen brood geëet of water gedrink nie

10. en יהוה het vir my die twee kliptafels gegee wat geskryf is met die vinger van God en waarop al die woorde was, wat יהוה op die berg, uit die vuur, met julle gepraat het, op die dag van die bymekaarkoms.

11. Aan die einde van veertig dae en veertig nagte het יהוה vir my die twee kliptafels gegee, die tafels van die verbond

12. en יהוה het vir my gesê: ‘Staan op, klim vinnig hiervandaan af, want jou volk wat jy uit Mitzrayim uitgelei het, het korrup opgetree; hulle het vinnig afgewyk van die pad wat Ek hulle beveel het; hulle het vir hulle ’n gegote beeld gemaak.’

13. Verder het יהוה met my gepraat en gesê: ‘Ek het hierdie volk gesien en let op, hulle is ’n hardnekkige volk.

14. Laat My staan dat Ek hulle kan vernietig en hulle naam van onder die hemel uitvee en Ek sal van jou ’n nasie maak wat magtiger en meer is as hulle.’

15. Ek het omgedraai en van die berg afgeklim terwyl die berg met vuur brand en die twee tafels van die verbond was in my twee hande

16. en ek het gesien dat julle inderdaad gesondig het teen יהוה, julle God en vir julle ’n gegote kalf gemaak het. Julle het vinnig afgewyk van die pad wat יהוה julle beveel het.

17. Ek het die twee tafels gegryp en dit uit my twee hande gegooi en dit voor julle oë gebreek.

18. Ek het voor die Teenwoordigheid van יהוה neergeval, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank het ek geen brood geëet of water gedrink nie, vanweë al julle sonde wat julle gesondig het deur te doen wat boos is in die oë van יהוה en Hom tot woede uit te tart,

19. want ek was bang vir die woede en die toorn waarmee יהוה vir julle kwaad was, om julle te vernietig, maar יהוה het dié keer ook na my geluister.Eks 32:21-35

20. יהוה was ook kwaad genoeg vir Aharon sodat Hy hom wou vernietig, maar ek het ook vir Aharon in dieselfde tyd gebid.

21. Ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, gevat en dit met vuur verbrand, dit stukkend gestamp en fyn gemaal totdat dit so fyn soos stof was en dié stof het ek in die stroom gegooi, wat van die berg afkom.

22. Wéér by Tav’erah, by Massah en by Kivrot-HaTa’avah het julle יהוה uitgetart tot woede.

23. Toe יהוה julle uit Kadesh-Barnea gestuur het met die woorde: ‘Trek op en neem die land in besit, wat Ek vir julle gegee het,’ het julle rebelleer teen die opdrag van יהוה, julle God en het julle Hom ook nie vertrou of ook nie na Sy stem geluister en dit gedoen nie.

24. Julle was rebels teen יהוה van die dag af dat ek julle ken.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9