Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:8-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Watter groot nasie is daar wat sulke reëls en regverdige wette het soos hierdie hele wet wat ek vandag voor julle hou?

9. Nogtans, let op na jouself en hou jou lewe ywerig sodat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie en dat hulle nie uit jou verstand weggaan al die dae van jou lewe nie en maak hulle bekend aan jou kinders en jou kleinkinders.

10. Onthou die dag toe jy voor יהוה, jou God, by Horev gestaan het en יהוה vir my gesê het: ‘Vergader die volk by My sodat Ek hulle My boodskappe kan laat hoor sodat hulle kan leer om My respekvol te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe en hulle hul kinders kan leer.’

11. Julle het nader gekom en by die voet van die berg gaan staan en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemele, met duisternis, wolke en dik somberheid

12. en יהוה het met julle vanuit die middel van die vuur gepraat; julle het die klank van die woorde gehoor, maar geen vorm gesien nie, net ’n Stem.

13. Hy het vir julle Sy verbond aangekondig, wat Hy julle beveel het om te doen, dit is, die tien opdragte en dit op twee kliptafels geskryf.

14. יהוה het my in daardie tyd beveel om vir julle reëls en wette te leer sodat julle dit kan doen in die land waarin julle oortrek, om dit te besit.

15. Pas jouself versigtig op, want julle het géén vorm gesien op die dag dat יהוה by Horev vanuit die vuur met julle gepraat het nie

16. sodat julle nie korrup optree en vir julle ’n gekerfde beeld maak in die vorm van enige afbeelding, man of vrou,

17. die afbeelding van enige dier op die aarde, of die afbeelding van enige voël wat in die lug vlieg,

18. ’n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ’n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is, nie

19. en pas op dat jy nie jou oë na die hemele opslaan en as jy die son, die maan, die sterre en die hele leër van die hemel sien, jy nie weggedryf word en voor hulle neerbuig en hulle dien nie, dinge wat יהוה, jou God, aan al die mense onder die ganse hemele toegedeel het.

20. יהוה het julle gevat en julle uitgehaal uit die yster-smeltoond, uit Mitzrayim, om ’n volk te wees, as Sy eie besitting, soos dit vandag is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4