Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 6:1-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het Daryavesh behaag om ’n honderd en twintig ‘beskermers van die ryk’ aan te stel wat oor die hele koninkryk sou wees

2. en oor hulle, drie ministers, waarvan Dani’el een was, aan wie hierdie ‘beskermers van die ryk’ rekenskap moes gee sodat die koning nie gepla sou word nie.

3. Toe het Dani’el bo die ministers en ‘beskermers van die ryk’ uitgemunt omdat ’n ander Gees in hom was en die koning het daaraan gedink om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

4. Toe het die ministers en die ‘beskermers van die ryk’ ’n rede gesoek om ’n klag teen Dani’el te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie omdat hy getrou was aan sy God en ook kon hulle geen skuld of aanklag teen hom vind nie.

5. Toe het die manne gesê: “Ons sal teen hierdie Dani’el geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind op grond van die wet van sy God.

6. Toe het hierdie ministers en ‘beskermers van die ryk’ voor die koning gekom en vir hom gesê: “Koning Daryavesh, leef vir ewig!

7. Al die ministers van die koninkryk, die prinse, die ‘beskermers van die ryk’ en die raadsmanne het beraadslaag dat die koning ’n koninklike verordening en ’n vaste verbod moet uitvaardig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.

8. Stel nou hierdie verbod vas, o koning en laat dit op skrif gestel word dat dit nie verander kan word nie, volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie verander kan word nie.”

9. Toe het koning Daryavesh die skrywe onderteken en die bevel uitgevaardig.

10. Toe Dani’el verneem dat die bevel geskryf is, het hy in sy huis ingegaan en die vensters in sy kamer was oop in die rigting van Yerushalayim. Hy het drie maal op ’n dag op sy knieë gegaan en gebid en dank uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.

11. Toe het hierdie manne hom afgeloer en Dani’el gevind terwyl hy bid en voor sy God smeek.

12. Hulle het nader gekom en voor die koning gesê: “Het u nie beveel en geskryf dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moes word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die bevel staan vas volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie verander kan word nie.

13. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: “Dani’el, een van die ballinge uit Y’hudah, het u nie in ag geneem, of die bevel wat u gegee het nie, o koning, maar drie maal op ’n dag doen hy sy gebede.”

14. Toe die koning hierdie woorde hoor, was hy baie hartseer en hy het besluit om Dani’el te verlos; tot sonsondergang toe het hy probeer om hom te bevry.

15. Daardie manne het egter aangehou by die koning en vir hom gesê: “Weet, o koning, dat daar ’n wet van Mede en Perse is dat elke bevel of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.”

16. Toe het die koning bevel gegee en hulle het Dani’el gebring en in die kuil met leeus gegooi. Die koning het gepraat en vir Dani’el gesê: “Jou God, wat jy gedurigdeur dien, sal jou bevry!”

17. Hulle het ’n groot klip gebring en dit op die opening van die kuil gelê en die koning het dit met sy eie seëlring en met die seëlring van sy prinse verseël sodat Dani’el se vonnis nie verander kon word nie.

18. Toe het die koning na sy paleis gegaan en die nag in vas deurgebring; geen kos is na hom gebring nie en sy slaap het hom verlaat.

19. Die koning het die oggend vroeg opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan

Lees volledige hoofstuk Dani'el 6