Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 11:17-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Die manne van die stad het uitgegaan en teen Yo’av geveg en sommige van die manne, van die diensknegte van Dawid, het geval en Uriyah, die Hittiet, het ook gesterf.

18. Toe stuur Yo’av om aan Dawid die hele verloop van die geveg te rapporteer.

19. Hy het die boodskapper beveel en gesê: “Wanneer jy klaar die hele verloop van die geveg aan die koning vertel het

20. en dit gebeur dat die woede van die koning opkom en hy vir jou sê: ‘Waarom het julle so naby die stad gegaan om te veg? Het julle dan nie geweet dat hulle bo van die muur af sou skiet nie?

21. Wie het Avimelekh, die seun van Yerubbeshet, verslaan? Het ’n vrou nie ’n boonste meulsteen van bo van die muur af op hom gegooi sodat hy in Tevetz gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ Dan moet jy sê: ‘U dienskneg Uriyah, die Hittiet, is ook dood!’”

22. Die boodskapper het gegaan en gekom en aan Dawid alles rapporteer wat Yo’av vir hom gestuur het om te vertel.

23. Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Die manne was vir ons te sterk en het teen ons uitgekom in die veld, maar ons het hulle teruggedruk tot by die ingang van die poort.

24. Meer nog, die boogskutters het bo van die muur af op u diensknegte geskiet; sommige van die koning se diensknegte is dood en u dienskneg, Uriyah, die Hittiet, is ook dood.”

25. Toe het Dawid vir die boodskapper gesê: “So moet jy vir Yo’av sê: ‘Moenie dat hierdie saak jou ontevrede stel nie, want die swaard verteer die een sowel as die ander; maak jou geveg teen die stad onveranderlik sterker en verwoes dit.’ So moet jy hom bemoedig.”

26. Toe die vrou van Uriyah hoor dat Uriyah, haar man, dood is, het sy oor haar man gerou.

27. Toe die routyd verby was, het Dawid gestuur en haar na sy huis toe gebring en sy het sy vrou geword. Toe het sy vir hom geboorte gegee aan ’n seun, maar die ding wat Dawid gedoen het, was boos in die oë van יהוה.

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 11