Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:12-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Shlomo het opgestaan voor die altaar van יהוה in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Yisra’el en sy hande uitgesprei na die hemel,

13. want Shlomo het ’n koper verhoog gemaak en dit in die middel van die oopte opgestel; vyf el lank, vyf el breed en drie el hoog; hy het daarop gaan staan en op sy knieë neergebuig voor die hele vergadering van Yisra’el en sy hande na die hemel uitgesprei in gebed

14. en gesê: “יהוה, God van Yisra’el, daar is niemand soos U nie, U is יהוה wat in die hemele daar bo bly en U wil word op die aarde, hier onder, uitgevoer, wat U verbond hou en onverdiende guns bewys aan U diensknegte wat met hulle hele verstand, wil en emosie opreg voor U lewe,

15. U wat vir U kneg, my vader, Dawid, U belofte nagekom het; U het met U mond gepraat en met U wil volbring, soos dit vandag is;

16. daarom, nou, יהוה, God van Yisra’el, hou ook U belofte wat U aan U dienskneg, my vader, Dawid, gedoen het, deur te sê: ‘Daar sal vir jou nooit ’n man voor My ontbreek om te sit op die troon van Yisra’el nie, as jou seuns net sal oplet op hulle lewenswyse om te leef in My wet soos wat jy voor My geleef het.

17. Laat dan nou, יהוה, God van Yisra’el, U woord bevestig word wat U vir U dienskneg, Dawid, gesê het,

18. want in waarheid het יהוה Sy blyplek by Sy volk, Yisra’el gemaak op aarde. Let op, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!

19. Gee dus aandag aan die gebed van U kneg en aan sy smeking, יהוה, my God, deur te luister na die gebed en smeking wat U kneg op hierdie dag voor U bid

20. dat hierdie huis in U Teenwoordigheid mag bly, dat U sal hoor en luister na die gebed van wie ook al tot U sal bid in hierdie huis, dag of nag, die plek waar U gesê het dat U sal bly.

21. Hoor en luister dan na die gebed van U dienskneg en van U volk Yisra’el wat hulle in U Teenwoordigheid, in hierdie plek sal bid; hoor vanaf U blyplek, vanuit die hemel en wanneer U hoor, vergewe.

22. As iemand sy naaste te na sou kom en hulle hom ’n eed laat aflê en hy kom en sweer voor U altaar in hierdie huis,

23. hoor dan uit die hemel sy gebed, tree op en oordeel U diensknegte, deur die skuldige te vergeld deur sy skuld op sy eie kop af te bring en die regverdige onskuldig te verklaar deur hom te beloon volgens sy onpartydige opregtheid.

24. As U volk, Yisra’el, verslaan word voor ’n vyand omdat hulle teen U gesondig het en hulle keer terug na U en bely U groot Naam (Karakter en Outoriteit) en bid en smeek voor U Teenwoordigheid in hierdie huis,

25. hoor dan uit die hemel en vergewe die sonde van U volk Yisra’el en bring hulle terug na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6