Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yoshiyahu was agt jaar oud toe hy begin heers het en het een en dertig jaar lank in Yerushalayim regeer.

2. Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה en geleef volgens die manier van sy vader, Dawid en nie regs of links afgewyk nie.

3. In die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om tot יהוה, God van sy vader Dawid, te bid en in die twaalfde jaar het hy begin om Y’hudah en Yerushalayim te reinig en die altare, afgode, beelde en afgodstempels af te breek.

4. Hy het die versierings, halssnoere, klokke en al die bome wat vir afgode gemaak is, in stukkies gebreek en fyn gemaal en hulle stof gestrooi oor die grafte van hulle wat aan hul geoffer het.

5. Hy het die beendere van die priesters wat hulle gedien het, opgegrawe en hulle gebring en verbrand en Y’hudah en Yerushalayim gereinig.

6. Hy het ook so gedoen in die stede van M’nasheh, Efrayim, Shim’on en Naftali, in hulle strate reg rondom.

7. Toe hy die altare omgegooi en die beelde stukkend geslaan en tot stof gemaal het en regdeur die hele Yisra’el verstrooi het, het hy teruggekeer na Yerushalayim.

8. In die agttiende jaar van sy regering, toe hy die land van Yisra’el en sy eie huis gereinig het, het hy vir Shafan, die seun van Atzalyahu en Ma’aseiyah, die stadsklerk geroep en vir hulle gesê: “Gaan, herstel die huis van יהוה, julle God.”

9. Toe hulle by die hoofpriester, Hilkiyahu, kom, het hulle die geld afgelewer wat in die huis van יהוה gebring is, wat die Leviete en die poortwagters versamel het uit M’nasheh en Efrayim en uit wat oorgebly het van Yisra’el en uit die hele Y’hudah en Binyamin en die inwoners van Yerushalayim.

10. Hulle het dit in die hande gegee van die werkers wat toesig gehad het oor die huis van יהוה en hulle het dit gegee aan die werkers wat die werk gedoen het aan die huis van יהוה, om die huis reg te maak en te pleister.

11. Hulle het dit ook gegee aan die skrynwerkers, die bouers en hulle wat kosbare stene en hout gekoop het vir die herstel en pleister van die geboue wat die konings van Y’hudah vernietig het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34