Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:10-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning en die hoofpriester opgekom en dit in sakke gebind en die geld getel wat in die huis van יהוה gevind is.

11. Hulle het die afgeweegde geld oorhandig aan dié wat die werk gedoen het, wat toesig oor die huis van יהוה gehad het en hulle het dit uitbetaal aan die skrynwerkers en die bouers wat aan die huis van יהוה gewerk het

12. en aan die messelaars en die klipkappers en om hout en gekapte klippe mee te koop om die beskadigde plekke van die huis van יהוה te herstel en vir alles wat uitgegee moes word om die huis te herstel.

13. Daar is egter nie silwer bekers, snuiters, komme, trompette, enige goue houers of silwer houers in die huis van יהוה gemaak van die geld wat in die huis van יהוה gebring is nie,

14. want hulle het dit vir dié gegee wat die werk gedoen het en daarmee het hulle die huis van יהוה herstel.

15. Meer nog, hulle het nie boekhouding vereis van die manne in wie se hand die geld gegee is om dié wat die werk doen te betaal nie, want hulle het getrou opgetree.

16. Die geld van die skuldoffer en die geld van die sondoffers is nie in die huis van יהוה gebring nie; dit was vir die priesters.

17. Toe het Haza’el, koning van Aram, opgegaan en teen Gat geveg en dit ingeneem en Haza’el het sy gesig gerig om op te gaan na Yerushalayim.

18. Yo’ash, koning van Y’hudah, het al die afgesonderde voorwerpe wat Y’hoshafat, Y’horam en Agazyah, sy vaders, konings van Y’hudah, afgesonder het, saam met sy eie afgesonderde voorwerpe en al die goud wat te vinde was in die skatkamers van die huis van יהוה en van die koning se huis gevat en dit aan Haza’el, koning van Aram gestuur. Toe het hy van Yerushalayim af weggegaan.

19. Die res van die dade van Yo’ash en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie?

20. Sy diensknegte het opgestaan en ’n sameswering gesmee en Yo’ash doodgeslaan in Beit-Millo, op pad na Silla.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12