Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ag’av het sewentig seuns gehad in Shomron. Yehu het aan die heersers van Yizre’el, die oudstes en aan die opvoeders van die seuns van Ag’av briewe geskryf, hulle na Shomron gestuur en gesê:

2. “Nou, wanneer hierdie brief by julle kom, aangesien die seuns van jul meester by julle is, sowel as die strydwaens, die perde, ’n versterkte stad en die wapens by julle is,

3. kies die beste en betroubaarste van die seuns van julle meester en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle meester.

4. Hulle het egter baie gevrees en gesê: “Let op, die twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe kan ons dan staan?”

5. Die een wat oor die huishouding was, hy wat oor die stad was, die oudstes en die opvoeders het woord aan Yehu gestuur en gesê: “Ons is u diensknegte, alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë.”

6. Toe het hy vir die tweede keer ’n brief aan hulle geskryf en gesê: “As julle aan my kant is en my stem sal gehoorsaam, vat die koppe van die manne, die seuns van julle meester en kom môre omtrent hierdie tyd na my toe in Yizre’el.” Die koning se seuns, sewentig man, was by die groot manne van die stad wat hulle grootgemaak het.

7. Toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning gevat en hulle gedood, sewentig man en hulle koppe in mandjies gesit en vir hom na Yizre’el gestuur.

8. Toe die boodskapper kom en hom vertel en sê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” sê hy: “Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot die oggend toe.”

9. In die oggend het hy uitgegaan en gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Let op, ék het saamgesweer teen my meester en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgemaak?

10. Weet dan dat niks onvervuld sal bly van die woord van יהוה wat יהוה gepraat het teen die huis van Ag’av nie, want יהוה het gedoen wat Hy deur sy dienskneg Eliyahu gesê het.”

11. Yehu het almal van die huis van Ag’av wat in Yizre’el oor was en al sy groot manne, sy vertrouelinge en sy priesters, doodgemaak totdat hy vir hom niemand laat oorbly het nie.

12. Toe het hy opgestaan en vertrek na Shomron. Terwyl hy oppad was, by Beit-Eked van die herders,

13. het Yehu familie van Agazyah, koning van Y’hudah, ontmoet en gesê: “Wie is julle?” Hulle antwoord: “Ons is familie van Agazyah en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10