Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 25:23-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Toe Avigayil Dawid sien, het sy gou van haar donkie afgeklim en voor Dawid op haar gesig neergeval en na die aarde toe gebuig.

24. Sy het voor sy voete neergeval en gesê: “Ek smeek u, my meester, laat die skuld op my wees, my meester; laat u dienares asseblief met u praat oor hierdie man, Naval,

25. want soos sy naam is, so is hy; Naval is sy naam en sy dwaasheid is by hom, maar ek, u dienares, het nie my meester se jongmanne, wat u gestuur het, gesien nie;

26. daarom, my meester, so waar as יהוה leef en u leef, aangesien יהוה u daarvan weerhou het om bloed te vergiet en om uself deur u eie hand te vergeld, laat nou u vyande en die wat boosheid soek teen my meester, soos Naval wees.

27. Laat hierdie geskenk wat u dienares vir my meester gebring het, nou vir die jongmanne gegee word wat saam met my meester is.

28. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares, want יהוה sal sekerlik vir my meester ’n standhoudende huis maak omdat my meester die oorloë van יהוה geveg en in u hele lewe geen boosheid gevind sal word nie.

29. Sou enige iemand opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, dan sal my meester se lewe saamgebind wees in die bondel van die lewendes by יהוה, u God, maar die lewens van u vyande sal Hy uitslinger soos vanuit die holte van ’n slinger.

30. Wanneer יהוה vir my meester doen volgens al die goeie waarvan Hy aangaande u gepraat het en u aanstel as heerser oor Yisra’el,

31. sal hierdie nie vir u droefheid veroorsaak nie, beide deur bloed te vergiet sonder rede en deurdat my meester homself vergeld het. Wanneer יהוה goed sal doen aan my meester, onthou dan u dienares.”

32. Toe sê Dawid vir Avigayil: “Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet

33. en geseënd is jou onderskeiding en geseënd is jy, wat my vandag daarvan weerhou het om bloed te laat vloei en om myself te vergeld met my eie hand.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 25