hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe is Sh’mu’el dood en die hele Yisra’el het bymekaargekom en oor hom gerou en hom begrawe by sy huis in Ramah. Dawid het opgestaan en afgegaan na die wildernis van Pa’ran.

2. Daar was ’n man in Ma’on wie se besigheid in Karmel was en die man was baie ryk en het drie duisend skape en ’n duisend bokke gehad. Dit het gebeur terwyl hy sy skape geskeer het in Karmel

3. (die man se naam was Naval en die naam van sy vrou Avigayil en die vrou was intelligent en mooi van aansien, maar die man was grof en boos in sy optrede en hy was van die familie van Kalev)

4. dat Dawid in die wildernis gehoor het dat Naval sy skape skeer.

5. Dawid stuur tien jongmanne en Dawid sê vir die jongmanne: “Gaan op na Karmel en groet vir Naval in my naam

6. en so moet julle sê: “’n Lang lewe, vrede vir u huis en vrede op alles wat u besit.

7. Nou, ek het gehoor dat u skeerders het. U herders was by ons en ons het hulle nie beledig nie en hulle het ook niks vermis, al die dae wat hulle in Karmel was nie.

8. Vra u jongmanne en hulle sal u vertel. Laat my jongmanne daarom guns vind in u oë, want ons het op ’n feestelike dag gekom. Gee asseblief wat u byderhand het aan u diensknegte en aan u seun Dawid.”

9. Toe Dawid se jongmanne arriveer, praat hulle met Naval volgens al hierdie woorde in Dawid se naam; toe wag hulle.

10. Naval het egter die diensknegte van Dawid geantwoord en gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Yishai? Daar is vandag baie diensknegte wat elkeen wegbreek van sy meester af.

11. Sou ek dan my brood, my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, vat en vir manne gee wie se oorsprong ek nie ken nie?”

12. Dawid se jongmanne het omgedraai op hulle pad en teruggegaan en gekom en hom vertel volgens al hierdie woorde.

13. Dawid sê vir sy manne: “Gord elkeen sy swaard aan!” Elke man het sy swaard aangegord en Dawid het ook sy swaard aangegord en omtrent vier honderd man het agter Dawid opgegaan terwyl twee honderd by die bagasie gebly het.

14. Een van die jongmanne het egter vir Avigayil, die vrou van Naval, vertel en gesê: “Let op, Dawid het boodskappers uit die wildernis gestuur om ons meester te groet en hy het hulle afgejak.

15. Tog was die manne vir ons baie goed en ons is nie beledig of het enige iets vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was, nie.

16. Hulle was ’n muur vir ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het.

17. Nou, daarom moet uself weet en oorweeg wat u moet doen, want boosheid word beplan teen ons meester en teen sy hele huishouding en hyself is so ’n deugniet dat niemand met hom kan praat nie.”

18. Toe het Avigayil gou twee honderd brode, twee kanne wyn, vyf voorbereide skape, vyf mate gebraaide graan, ’n honderd rosynekoeke en twee honderd vyekoeke gevat en dit op donkies gelaai.

19. Sy het vir haar jongmanne gesê: “Gaan voor my uit; let op, ek kom agter julle aan.” Sy het egter nie vir haar man, Naval vertel nie.

20. Dit het gebeur terwyl sy op haar donkie ry en in die verborge deel van die berg afdaal, let op, dat Dawid en sy manne afkom na haar toe; so het sy hulle ontmoet.

21. Nou, Dawid het gedink: “Ek het sekerlik verniet alles wat aan hierdie man behoort in die wildernis beskerm sodat daar niks van sy goed vermis is nie en hy vergeld my goedheid met boosheid.

22. Mag God so aan die vyande van Dawid doen en nog meer, as ek van almal wat aan hom behoort, teen die oggend een laat oorbly wat manlik is.”

23. Toe Avigayil Dawid sien, het sy gou van haar donkie afgeklim en voor Dawid op haar gesig neergeval en na die aarde toe gebuig.

24. Sy het voor sy voete neergeval en gesê: “Ek smeek u, my meester, laat die skuld op my wees, my meester; laat u dienares asseblief met u praat oor hierdie man, Naval,

25. want soos sy naam is, so is hy; Naval is sy naam en sy dwaasheid is by hom, maar ek, u dienares, het nie my meester se jongmanne, wat u gestuur het, gesien nie;

26. daarom, my meester, so waar as יהוה leef en u leef, aangesien יהוה u daarvan weerhou het om bloed te vergiet en om uself deur u eie hand te vergeld, laat nou u vyande en die wat boosheid soek teen my meester, soos Naval wees.

27. Laat hierdie geskenk wat u dienares vir my meester gebring het, nou vir die jongmanne gegee word wat saam met my meester is.

28. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares, want יהוה sal sekerlik vir my meester ’n standhoudende huis maak omdat my meester die oorloë van יהוה geveg en in u hele lewe geen boosheid gevind sal word nie.

29. Sou enige iemand opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, dan sal my meester se lewe saamgebind wees in die bondel van die lewendes by יהוה, u God, maar die lewens van u vyande sal Hy uitslinger soos vanuit die holte van ’n slinger.

30. Wanneer יהוה vir my meester doen volgens al die goeie waarvan Hy aangaande u gepraat het en u aanstel as heerser oor Yisra’el,

31. sal hierdie nie vir u droefheid veroorsaak nie, beide deur bloed te vergiet sonder rede en deurdat my meester homself vergeld het. Wanneer יהוה goed sal doen aan my meester, onthou dan u dienares.”

32. Toe sê Dawid vir Avigayil: “Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet

33. en geseënd is jou onderskeiding en geseënd is jy, wat my vandag daarvan weerhou het om bloed te laat vloei en om myself te vergeld met my eie hand.

34. Nogtans, so waar as יהוה, die God van Yisra’el, leef wat my verhinder het om jou kwaad aan te doen, as jy nie gou gekom het om my te ontmoet nie, sou daar waarlik nie vir Naval een manlike oorgebly het teen die oggendlig nie!”

35. Dawid het uit haar hand ontvang wat sy vir hom gebring het en vir haar gesê: “Gaan op na jou huis in vrede! Kyk, ek het na jou geluister en jou versoek toegestaan.”

36. Toe kom Avigayil by Naval en let op, hy het ’n fees in sy huis gehou, soos die fees van ’n koning. Naval se hart was vrolik in hom, want hy was baie dronk; daarom het sy hom niks vertel tot die oggendlig nie.

37. In die oggend egter, toe die wyn Naval verlaat het, het sy vrou hom hierdie dinge vertel en sy verstand, wil en emosie het in hom gesterf sodat hy soos ’n klip geword het.

38. Omtrent tien dae later het יהוה Naval getref en is hy dood.

39. Toe Dawid hoor dat Naval dood is, het hy gesê: “Geseënd is יהוה wat die saak van my smaad deur die hand van Naval verdedig het en sy kneg teruggehou het van boosheid. יהוה het ook die bose dade van Naval op sy eie kop laat neerkom.” Toe het Dawid ’n voorstel aan Avigayil gestuur om haar as sy vrou te neem.

40. Toe die diensknegte van Dawid by Avigayil, in Karmel, gekom het, het hulle met haar gepraat en gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur om u vir hom as vrou te vat.”

41. Sy het opgestaan en met haar gesig na die grond toe gebuig en gesê: “Let op, hier is u dienares as slavin om die voete van my meester se diensknegte te was.”

42. Toe staan Avigayil haastig op en het op ’n donkie gery, met haar vyf diensmeisies wat haar bedien en sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword.

43. Dawid het ook vir Agino’am uit Yizre’el geneem en hulle het altwee sy vroue geword.

44. Sha’ul het sy dogter Mikhal, Dawid se vrou, aan Palti, die seun van Layish, gegee, wat van Gallim was.