Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 10:3-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Dan sal jy van daar af verder gaan en kom by die Eikeboom van Tavor en daar sal drie manne jou kry wat na God, by Beit-El, opgaan: een dra drie bokkies, die ander een dra drie brode en die ander dra ’n sak wyn.

4. Hulle sal jou groet en vir jou twee brode gee, wat jy uit hulle hand sal aanvaar.

5. Daarna sal jy kom by Giv’ah van God, waar die garnisoen van die F’lishtyne is en dit sal wees sodra jy daar by die stad kom dat jy ’n groep profete sal ontmoet wat van die hoë plek af kom met harp, tamboeryn, fluit en lier voor hulle uit terwyl hulle profeteer.

6. Dan sal die Gees van יהוה kragtig op jou kom en jy sal saam met hulle profeteer en in ’n ander mens verander word.

7. Dit sal wees dat, as hierdie tekens na jou toe kom, doen dan wat die geleentheid vereis, want God is met jou.

8. Jy moet voor my uit afgaan na Gilgal en let op, ek sal na jou toe afkom om brandoffers te offer en om vredesoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag totdat ek by jou kom en jou wys wat jy moet doen.”

9. Dit het gebeur dat, toe hy sy rug draai om van Sh’mu’el af weg te gaan, God sy verstand, wil en emosie verander het en al daardie tekens het op daardie dag gebeur.

10. Toe hulle by Giv’ah gekom het, let op, ontmoet ’n groep profete hom en die Gees van God het kragtig op hom gekom sodat hy tussen hulle geprofeteer het.

11. Dit het gebeur toe almal wat hom vroeër geken het, sien dat hy nou saam met die profete profeteer, die mense vir mekaar gesê het: “Wat het gebeur met die seun van Kish? Is Sha’ul ook onder die profete?”

12. ’n Man vanaf dieselfde plek het gesê: “Maar wie is sy vader?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Sha’ul ook onder die profete?”

13. Toe hy klaar geprofeteer het, het hy by die hoë plek aangekom.

14. Sha’ul se oom het vir hom en sy dienskneg gevra: “Waarheen het julle gegaan?” Hy sê: “Om na die donkies te soek en toe ons sien dat hulle nie te vinde was nie, het ons na Sh’mu’el gegaan.”

15. Sha’ul se oom sê: “Vertel my asseblief wat Sh’mu’el vir julle gesê het.”

16. Sha’ul sê toe vir sy oom: “Hy het ons reguit vertel dat die donkies gevind is.” Hy het hom egter nie van die saak van die koningskap, wat Sh’mu’el genoem het, vertel nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 10