Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:8-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Al die oudstes en al die mense antwoord hom: “Moenie luister of inwillig nie.”

9. Hy het vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir my meester die koning: ‘Alles waarvoor u die eerste keer na u dienskneg gestuur het, sal ek doen, maar hierdie ding kan ek nie doen nie.” Die boodskappers het weggegaan en weer vir hom ’n antwoord gebring.

10. Ben-Hadad het gestuur en vir hom gesê: “Mag die gode so aan my doen en ook meer, as die stof van Shomron genoeg sal wees vir ’n handvol aan elke man wat my volg!”

11. Toe antwoord die koning van Yisra’el: “Sê vir hom: ‘Laat die een wat sy wapenrusting aantrek nie roem soos een wat dit uittrek nie.’”

12. Toe hy hierdie boodskap hoor terwyl hy besig was om te drink saam met die konings in die tydelike skuilings, sê hy vir sy diensknegte: “Neem posisie in!” Hulle het posisie ingeneem teen die stad.

13. Nou let op, ’n profeet het Ag’av, die koning van Yisra’el, genader en gesê: “So sê יהוה: ‘Het jy hierdie hele groot menigte gesien? Let op, Ek lewer hulle vandag in jou hand oor en jy sal weet dat Ek יהוה is.’”

14. Ag’av sê: “Deur wie?” Hy antwoord: “So sê יהוה: ‘Deur die jongmanne van die heersers van die provinsies.’” Hy sê: “Wie moet die geveg begin?” Hy antwoord: “U.”

15. Toe roep hy die jongmanne van die heersers van die provinsies op en hulle was twee honderd twee en dertig en ná hulle roep hy al die manne op, al die seuns van Yisra’el: sewe duisend.

16. Hulle het op die middag uitgegaan terwyl Ben-Hadad homself dronk gedrink het in die tydelike skuilings, saam met die twee en dertig konings wat hom gehelp het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20