Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:12-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Shlomo het op die troon van Dawid, sy vader, gaan sit en sy koningskap was stewig vasgemaak.

13. Adoniyah, die seun van Haggit, het na Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo, gekom en sy het gevra: “Kom jy in vrede?” Hy antwoord: “In vrede.”

14. Toe het hy gesê: “Ek het iets om vir u te sê.” Sy antwoord: “Praat.”

15. Hy het gesê: “U weet dat die koningskap myne was en dat die hele Yisra’el verwag het dat ek koning sou wees; die koningskap het egter oorgegaan en my broer s’n geword, want dit was syne vanaf יהוה.

16. Nou rig ek een versoek tot u; moet my nie weier nie.” Sy antwoord hom: “Praat.”

17. Toe sê hy: “Praat asseblief met Shlomo, die koning, want hy sal u nie weier nie, dat hy Avishag, die Shunamiet, vir my as vrou moet gee.”

18. Bat-Sh’va het gesê: “Goed, ék sal met die koning namens jou praat.”

19. Bat-Sh’va het na koning Shlomo gegaan om met hom namens Adoniyah te praat en die koning het opgestaan om haar te ontmoet, voor haar neergebuig en op sy troon gaan sit; toe het hy vir die moeder van die koning ’n troon laat opstel en sy het aan sy regterhand gesit.

20. Toe sê sy: “Ek het een klein versoekie vir u; moet my nie weier nie.” Die koning antwoord haar: “Vra, my moeder, want ek sal u nie weier nie.”

21. Sy sê: “Laat Avishag, die Shunamiet, vir u broer Adoniyah as vrou gegee word.”

22. Koning Shlomo antwoord en sê vir sy moeder: “Waarom vra u Avishag, die Shunamiet, vir Adoniyah? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my ouer broer. Vir hom, vir Evyatar, die priester en vir Yo’av, die seun van Tz’ruyah!”

23. Toe sweer koning Shlomo by יהוה en sê: “Mag God so aan my doen en ook meer, as Adoniyah nie hierdie woord teen sy eie lewe gepraat het nie.

24. Nou, daarom, soos יהוה leef wat my bevestig het en my op die troon van my vader Dawid laat sit en vir my ’n huis gemaak het volgens sy belofte, sal Adoniyah sekerlik vandag doodgemaak word!”

25. Koning Shlomo het vir B’nayah, die seun van Y’hoyada gestuur en hy het hom aangeval sodat hy dood is.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2