Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 20:12-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. en twee engele daar gesien sit met wit klere aan, een by die kussing en een by die voete waar die liggaam van Yeshua gelê het

13. en hulle vra vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Meester weggevat het en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14. Toe sy dit gesê het, draai sy om agtertoe en sien Yeshua staan en sy het nie geweet dat dit Yeshua was nie.

15. Yeshua vra vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom neergesit het en ek sal Hom wegvat.”

16. Yeshua sê vir haar: “Miryam!” Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabbuli!” wat beteken ‘my Leermeester.’

17. Yeshua sê vir haar: “Moenie My vashou nie, want Ek het nog nie opgegaan om by My Vader te wees nie, maar gaan na My broers toe en sê vir hulle: ‘Ek gaan op na My Vader en julle Vader en My God en julle God’.”

18. Miryam van Migdala het aan die studentevolgelinge gaan vertel dat sy die Meester gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het.

19. Toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure, waar die studentevolgelinge gebly het, uit vrees vir die Jode gesluit was, het Yeshua gekom, tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle!”

20. Nadat Hy dit gesê het, wys Hy vir hulle Sy hande en Sy sy en die studentevolgelinge was bly omdat hulle ons Meester gesien het.

21. Yeshua sê weer vir hulle: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22. Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Gees van Afsondering.

23. As julle iemand hulle sondes vergewe, dan is dit hulle vergewe. As julle iemand hulle sondes laat behou, dan is dit gehou.”

24. T’oma, wat genoem is ‘Tweeling,’ een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Yeshua gekom het nie.

25. Die studentevolgelinge het vir hom gesê: “Ons het ons Meester gesien,” maar hy het hulle geantwoord: “As ek nie in Sy hande die spykerwonde sien en my vinger in die spykerwonde steek en my hand in Sy sy steek nie, dan sal ek nie vertrou nie.”

Lees volledige hoofstuk Yoganan 20