Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 8:3-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Yoganah, die vrou van Kuza, ’n kommissaris van Herodes, Shoshanah en baie ander wat Hom met hulle eie besittings bedien het.

4. Toe daar ’n groot groep mense vergader wat uit die verskillende stede na Hom toe gekom het, sê Hy vir hulle deur ’n vergelykende storie:

5. “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai en terwyl hy saai, val sommige aan die kant van die pad en is vertrap en ’n voël het dit opgeëet.

6. Ander saad het op die rots geval en onmiddellik ontkiem en toe verdroog omdat dit geen vog gehad het nie.

7. Ander saad het tussen die dorings geval en die dorings het saam gegroei en het dit versmoor.

8. Ander saad het in die goeie en uitstekende grond geval en ontkiem en honderdvoudige vrug gelewer.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ’n oor het wat wil hoor, laat hom luister!”

9. Sy studentevolgelinge het Hom gevra en gesê: “Wat is hierdie vergelykende storie?”Yes 6:9

10. Hy antwoord: “Aan julle is gegee om die geheime van die Koninkryk van God te ken, maar met die ander word deur vergelykende stories gepraat sodat hulle, kykende, nie sien nie en horende, nie verstaan nie.

11. Hierdie is die vergelykende storie: die saad is die boodskap van God.

12. Dié langs die pad is hulle wat hoor. Daarna kom die vyand en vat die boodskap uit hulle verstand, wil en emosie weg sodat hulle nie vertrou en sal lewe nie.

13. Dié op die rots is hulle wat die boodskap met vreugde ontvang wanneer hulle dit hoor, maar hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd vertrou en in die tyd van toetsing val hulle weg.

14. Wat in die dorings geval het, is die wat gehoor het en hulle gaan weg en word versmoor deur die bekommernisse, rykdom en begeertes van die wêreld en dra geen vrugte nie.

Lees volledige hoofstuk Luka 8