Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 7:4-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Toe hulle by Yeshua kom, het hulle Hom ernstig versoek en gesê: “Hy is waardig dat U dit vir hom doen,

5. want hy het ons volk lief en het self die bymekaarkomplek vir ons gebou.”

6. Yeshua het saam met hulle gegaan, maar toe Hy nie ver van die huis af was nie, stuur die kaptein oor ’n honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: “My Meester, moenie moeite doen nie, want ek is nie waardig dat U onder my dak inkom nie;

7. daarom het ek my ook nie by regte geag om na U te gaan nie, maar sê ’n woord en my dienskneg sal gesond word,

8. want ek is ook ’n man wat onder outoriteit gesit is en ek het soldate onder my en vir hierdie een sê ek: ‘Gaan!’ en hy gaan en vir ’n ander een: ‘Kom!’ en hy kom en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9. Toe Yeshua dit hoor, het Hy hom verwonder oor hom en Hy draai Hom om en sê vir die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, selfs nie in Yisra’el het Ek so ’n groot vertroue gekry nie.”

10. Toe die wat gestuur was, teruggaan in die huis, vind hulle die siek slaaf reeds gesond.

11. Dit het gebeur dat Hy, Sy studentevolgelinge en ’n skare mense saam met Hom, die volgende dag na ’n dorp met die naam van Na’in gegaan het.

12. Toe Hy die poort van die dorp nader, sien Hy daar word ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, ’n weduwee en baie mense van die dorp was saam met haar.

13. Yeshua het haar gesien en het liefdevol omgegee vir haar en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

14. Hy het nadergegaan, die draagbaar aangeraak en die draers het gaan staan en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”

15. Hy wat dood was het regop gesit, begin praat en Hy het hom vir sy moeder gegee.

16. Respekvolle vrees het almal aangegryp en hulle het God vereer, geloof en aanbid en gesê: “’n Groot profeet het tussen ons opgestaan en God het Sy volk besoek.”

17. Hierdie boodskap aangaande Hom het uitgegaan in die hele Y’hudah en in die omliggende gebied.

18. Die studentevolgelinge van Yoganan het hom oor al hierdie dinge ingelig

19. en Yoganan het twee van sy studentevolgelinge na hom toe geroep en hulle na Yeshua gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons vir ’n ander een wag?”

20. Die manne het by Hom gekom en vir Hom gesê: “Yoganan die Doper het ons na U gestuur en gevra: ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons vir ’n ander Een wag?’”

21. In daardie uur het Hy baie mense genees van siektes, plae, bose geeste en aan baie blindes hulle sig gegee.Yes 26:19; Yes 35:5-6; Yes 61:1 hulle wat blind was, sien; hulle wat lam was, loop; hulle wat melaats was, word gereinig; hulle wat doof was, hoor; hulle wat dood was, staan op; aan hulle wat arm is, word die goeie boodskap verkondig

22. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Gaan vertel aan Yoganan alles wat julle gesien en gehoor het:

Lees volledige hoofstuk Luka 7