Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 5:13-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Yeshua steek Sy hand uit en raak hom aan en sê: “Ek wil, wees gereinig!” In ’n oomblik het die melaatsheid van hom af weggegaan en hy was rein

14. en Hy beveel hom om dit aan niemand te vertel nie, maar, sê Hy: “Gaan wys jouself aan die priester, vir hulle tot ’n getuienis en offer vir jou reiniging, net soos Moshe beveel het.”

15. Sy bekendheid het al hoe meer versprei en groot groepe mense het bymekaargekom om te luister na Hom en deur Hom van hulle siektes gesond gemaak te word,

16. maar Hy het Hom na verlate plekke onttrek en gebid.

17. Dit het op een van die dae toe Yeshua besig was om te leer en Fariseërs en leraars van die wet uit al die dorpe van die Galil, Y’hudah en uit Yerushalayim daar gesit het, gebeur dat die krag van יהוה om te genees daar was.

18. Manne het ’n verlamde man op ’n draagbaar gebring en hulle het ’n plek gesoek om hom in te bring en voor Hom neer te sit

19. en toe hulle nie ’n pad kon vind om hom in te bring nie, as gevolg van die menigte mense, klim hulle op die dak en laat hom met die bed, deur die teëls, tussen hulle in, voor Yeshua afsak.

20. Toe Yeshua hulle vertroue sien, sê Hy vir die verlamde man: “Man, jou sondes is vir jou vergewe.”

21. Die leraars van die wet en die Fariseërs het dit ernstig oordink en gesê: “Wie is Hy wat so kwaadpraat van God? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?”

22. Yeshua het hulle gedagtes geken en Hy antwoord en sê vir hulle: “Wat bedink julle in jul gedagtes?

23. Wat is makliker, om te sê: ‘Jou sondes is vir jou vergewe;’ of om te sê: ‘Staan op en loop?’

24. Sodat julle egter kan sien dat die Seun van die mens outoriteit het om op aarde sondes te vergewe,” sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou draagbaar op en gaan na jou huis toe.”

25. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, tel die draagbaar waarop hy gelê het op en gaan na sy huis toe terwyl hy God loof.

Lees volledige hoofstuk Luka 5