Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 20:7-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Hulle antwoord Hom: “Ons weet nie van waar dit is nie.”

8. Yeshua sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle deur watter outoriteit Ek hierdie dinge doen nie.”

9. Hy begin om vir die mense hierdie gelykenis te vertel: “’n Sekere man het ’n wingerd geplant en dit aan werkers oorhandig en vir ’n lang tyd na ’n ander land gegaan.

10. In die seisoen het hy ’n slaaf na die werkers toe gestuur sodat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee, maar die werkers het hom geslaan en kaal gestroop weggestuur.

11. Hy het weer ’n ander slaaf gestuur en hulle het hom net so geslaan, onteer en hom kaal weggestuur.

12. Hy het weer ’n derde gestuur en hulle het ook hierdie een gewond en uitgegooi.

13. Die eienaar van die wingerd sê: ‘Wat sal ek doen? Ek sal my seun stuur vir wie ek lief is; sonder twyfel sal hulle hom sien en skaam wees.’

14. Toe die werkers hom sien, het hulle ondermekaar bespreek en gesê: ‘Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak sodat die erfporsie ons s’n kan wees.’

15. Hulle het hom buitekant, uit die wingerd gegooi en hom vermoor. Wat sal die eienaar van die wingerd daarom aan hulle doen?Rom 11:17

16. Hy sal kom en daardie werkers vernietig en die wingerd aan ander gee.” Toe hulle dit hoor, sê hulle: “’n Verwerplike gedagte!”Ps 118:22

17. Hy het na hulle gekyk en gesê: “Wat beteken dan hierdie woord wat geskryf is: die Steen wat die bouers verwerp het, dit het die Hoof Hoeksteen geword?

18. Elkeen wat oor hierdie steen val, sal gebreek word, maar elkeen op wie dit val, dié sal hy uitmekaar laat spat.”

19. Die leierpriesters en die leraars van die wet wou op daardie oomblik die hande op Hom kry, want hulle het geweet dat Hy hierdie vergelykende storie op hulle gerig het, maar hulle was bang vir die mense

20. en hulle het spioene gestuur wat voorgegee het om onskuldig te wees sodat hulle Hom op ’n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die regter en aan die outoriteit van die goewerneur.

21. Hulle het Hom gevra en gesê: “Leermeester, ons weet dat U reg praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die ware pad van God leer,

22. is dit volgens die wet vir ons om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

23. Hy het egter deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Waarom toets julle My?

24. Wys My ’n denarion. Wie se beeld en naam het dit op?” Hulle antwoord en sê: “Die keiser s’n.”

Lees volledige hoofstuk Luka 20