Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 10:23-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Hy draai na Sy studentevolgelinge alleen en sê vir hulle: “Uitermate gelukkig is die oë wat sien wat julle sien,

24. want Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien wat julle sien en het dit nie gesien nie en om te hoor wat julle hoor en het dit nie gehoor nie.”

25. Let op, ’n sekere leraar van die wet het opgestaan om Hom te toets en gesê: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?”

26. Yeshua sê vir hom: “Wat is in die wet geskryf? Hoe lees jy?”Lev 19:18; Deut 6:5

27. Hy antwoord en sê vir Hom: “Jy moet יהוה, jou God, liefhê vanuit jou hele verstand, wil en emosie en vanuit jou hele gees en vanuit al jou vermoëns en vanuit jou hele verbeelding en jou medemens net soos jouself.”

28. Yeshua sê vir hom: “Jy het reg geantwoord; doen dit en jy sal lewe.”

29. Hy wou homself egter onskuldig verklaar en sê vir Hom: “En wie is my medemens?”

30. Yeshua sê vir hom: “’n Sekere man het afgegaan vanaf Yerushalayim na Yerigo en boewe het hom aangeval, hom beroof, geslaan en hom half dood gelos en weggegaan.

31. Dit het gebeur dat ’n sekere priester met daardie pad afgekom het en toe hy hom sien, het hy verbygegaan

32. en net so het ook ’n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en verbygegaan,

33. maar ’n sekere man van Shomron wat op reis was, het op hom afgekom en toe hy hom sien, het hy vir hom omgegee

34. en na hom toe gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie dier geplaas en hom na ’n herberg gevat en vir hom gesorg.

Lees volledige hoofstuk Luka 10