Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 1:12-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Dank God-die-Vader wat ons waardig gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die afgesonderdes in die lig.

13. Hy het ons gered uit die outoriteit van die duisternis en ons gebring na die Koninkryk van Sy Seun, wat Hy liefhet,

14. in Wie vir ons verlossing en vergifnis van sondes is.

15. Hy, wat die afbeelding is van die onsigbare God, die Eersgeborene van alles wat geskep is.

16. Deur Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, of dit nou trone of heerskappye of heersers of outoriteite is, alle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.Yog 1:1-5,10; Heb 1:2

17. Hy Is die Een wat voor alle dinge is en alles bestaan deur Hom.

18. Hy Is die Hoof van die liggaam, wat die gemeente is. Hy is die Hoof en die Eersgeborene uit die dood sodat Hy in alles die Eerste kan wees,

19. want Hy wil dat in Hom alle volheid sal bly

20. en deur Hom alle verhoudings met Homself sal herstel en Hy het vrede gemaak deur die bloed van Sy kruisiging; óf dit nou die dinge op die aarde is óf ook die dinge in die hemele.

21. Ook vir julle wat vroeër vreemdelinge en vyande in julle gedagtes deur julle bose werke was, het Hy nou vrede gegee

22. in Sy vleeslike liggaam en deur Sy dood, om julle afgesonderd, sonder skuld en sonder aanklag voor Hom te laat staan

23. as julle voortgaan in julle vertroue terwyl julle fondasie waar is en julle nie wegbeweeg van die versekerde verwagting van die goeie boodskap af, wat julle gehoor het en wat verkondig is aan elkeen in die skepping onder die hemel, waarvan ek, Sha’ul, die bedienaar geword het nie.

24. Ek verheug my in lyding wat om julle onthalwe is en vul in my vlees aan, dit wat ek kortkom aan die lyding van Die Gesalfde Een, vir Sy liggaam, wat die gemeente is;

25. waarvan ek ’n bedienaar geword het volgens die verantwoordelikheid van God wat aan my gegee is vir julle, om die boodskap van God volledig te maak:

26. daardie geheime wat weggesteek was vir die wêreld en vir generasies, maar nou openbaar is aan Sy afgesonderdes,

27. hulle aan wie God besluit het om bekend te maak wat die rykdom van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid onder die ander nasies is, dit is, Die Gesalfde Een wat in julle is, die versekerde verwagting van ons eer, lof en grootheid;

28. Hy wie ons verkondig en leer en elke mens onderrig in alle wysheid sodat elke mens volmaak in Yeshua, Die Gesalfde Een, kan staan,

Lees volledige hoofstuk Kolossense 1