Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:8-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Die goewerneur en al die mense was verontrus toe hulle dit gehoor het

9. en hulle het borg van Yasoon en die ander ontvang en hulle losgelaat.

10. Die broers het dadelik, toe dit nag word, vir beide Sha’ul en Sila na Beroia weggestuur en toe hulle daar kom, het hulle in die bymekaarkomplek van die Jode ingegaan.

11. Hierdie Jode was meer edel as dié in Thessalonike; hulle het elke dag die boodskap met gretigheid ontvang terwyl hulle uit die Skrifte onderskei het om te sien of hierdie dinge so was.

12. Baie van hulle het vertrou, asook baie van die Griekse manne en van die belangrike Griekse vroue!

13. Toe die Jode van Thessalonike gehoor het dat die boodskap van God ook in Beroia deur Sha’ul verkondig is, het hulle gekom en nie opgehou om die mense daar op te sweep en te verontrus nie.

14. Die broers het toe dadelik vir Sha’ul weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Sila en Timotheos het daar gebly.

15. Hulle wat saam met Sha’ul gegaan het, het saam met hom tot by Athenai gegaan en nadat hulle ’n brief van hom ontvang het aan Sila en Timotheos om so gou as moontlik na hom toe te kom, het hulle vertrek.

16. Terwyl Sha’ul in Athenai vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die hele stad vol afgode was.

17. Hy het elke dag in die bymekaarkomplek met die Jode en met die godsdienstige mense gepraat en op die mark met dié wat hom ontmoet.

18. Sommige van die volgelinge van Epikourios en die Stoikos filosowe, het met hom gedebatteer. Sommige het gesê: “Wat probeer hierdie storiemaker tog sê?” Ander weer: “Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode” omdat hy aan hulle die goeie boodskap van Yeshua en Sy opstanding verkondig het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17