Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:22-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Sha’ul het opgestaan op die Rots van Ares en gesê: “Manne van Athenai, ek sien dat julle in elke opsig uitblink in die aanbidding van demone.

23. Terwyl ek geloop het en die plekke van julle aanbidding gesien het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: ‘Aan ’n onbekende god’. Hom wat julle dan aanbid en nie ken nie; Hom verkondig ek aan julle.

24. Die God wat die heelal gemaak het en alles wat daarin is, Hy is Meester van die hemele en van die aarde; Hy woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie;

25. ook word Hy nie deur mensehande gedien en het Hy niks nodig nie omdat Hy self aan almal gees en lewe gee.

26. Hy het uit een bloed die hele mensdom op die aarde gemaak, om oor die hele aarde te bly terwyl Hy vooraf bepaalde tye in Sy opdragte uitgestip en grense vir hulle blyplek vasgestel hetRom 1:20

27. sodat hulle God kon soek en navraag doen en Hom deur Sy skepping kon vind, want Hy is nie ver van elkeen van ons af nie,

28. want deur Hom het ons lewe, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle wyses ook gesê het: ‘Ons is van Sy nageslag.’

29. As ons dan die nageslag van God is, kan ons mos nie dink dat God aan goud, silwer en steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.

30. God het die tye van misleiding verban en beveel alle mense nou dat elkeen op elke plek moet erken en bely en wegdraai van die sonde na God toe

31. omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in onpartydige opregtheid sal oordeel deur die Man wat Hy aangestel het en Hy het Sy vertrouenswaardigheid aan almal bewys, deur Hom uit die dood uit te laat opstaan.”

32. Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het sommige begin spot en ander het gesê: “Ons sal u op ’n ander tyd daaroor hoor.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17