Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:14-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. ’n Sekere vrou met die naam van Ludia, ’n verkoopster van fyn purper van die stad Thuateira, ’n vrou wat God aanbid, het geluister; die Meester het haar verstand, wil en emosie oopgemaak om te reageer op wat Sha’ul gesê het.

15. Nadat sy en die kinders van haar huis gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As u oortuig is daarvan dat ek in ons Meester vertrou, kom dan in my huis en bly daar.” Sy het ernstig by ons aangedring.

16. Terwyl ons op pad was na die huis van gebed, ontmoet ons ’n sekere slavin, met die Piton-gees (luislang), wat die toekoms kon voorspel, wat vir haar eienaars groot wins ingebring het deur waarsêery.

17. Sy het Sha’ul en ons gevolg en uitgeskree en gesê: “Hierdie manne is slawe van Ha-Elyon, (die Allerhoogste God) en hulle verkondig aan julle die pad van lewe.”

18. Dit het sy vir baie dae lank gedoen en Sha’ul het kwaad geword, hom omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die (Naam) Outoriteit en Karakter van Yeshua, Die Gesalfde Een, om uit haar uit te gaan.” Hy het op daardie oomblik uitgegaan.

19. Toe haar meesters sien dat die hoop van hulle besigheid uit haar uitgaan, het hulle Sha’ul en Sila gegryp, hulle na die markplein gesleep

20. en hulle voor die regters en hoofde van die stad gebring en gesê: “Hierdie manne bring groot moeilikheid in ons stad omdat hulle van Y’hudah is.

21. Hulle verkondig gebruike wat vir ons nie wettig is om aan te neem of te doen nie omdat ons Romeine is.

22. ’n Groot skare het teen hulle bymekaargekom en die regters het hulle klere laat afskeur en beveel om hulle te gésel.

23. Nadat hulle hul baie houe gegee het, het hulle hul in die tronk gegooi en die tronkbewaarder beveel om hulle veilig te bewaak.

24. Toe hy só ’n bevel ontvang, het hy hulle in die binneste tronksel gegooi en hulle voete in die houtblok vasgemaak.

25. In die middel van die nag was Sha’ul en Sila besig om te bid en tot God te sing en die gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondasies van die tronk geskud het en onmiddellik het al die deure oopgegaan en almal se boeie het losgeval.

27. Toe die tronkbewaarder wakker word en hy sien dat die deure van die tronk oop is, het hy ’n swaard gevat en wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het,

28. maar Sha’ul het met ’n harde stem geroep en gesê: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.”

29. Hy het ’n lamp aangesteek, na binne gespring en bewend voor Sha’ul en Sila neergeval

30. en hy het hulle na buite gebring en gesê: “My meesters, wat moet ek doen sodat ek kan lewe?”

31. Hulle sê vir hom: “Vertrou in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een en jy sal lewe, jy en jou huisgesin.”

32. Hulle het aan hom die boodskap van יהוה verkondig en aan al die lede van sy huis.

33. Daardie tyd van die nag het hy hulle gevat en hulle wonde gewas en hy is dadelik gedoop, hy en al die lede van sy huis.

34. Toe bring hy hulle in sy huis en sit vir hulle kos voor en hy het gespring van vreugde, saam met sy hele huisgesin omdat hulle tot vertroue in God gekom het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16