Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 28:4-22 Die Boodskap (DB)

4. Iemand wat nie meer na die woord van die Here luister nie, is soos ’n ongelowige. Iemand wat die woord ernstig opneem, kom nie met slegte mense klaar nie.

5. Slegte mense het geen begrip van wat reg of verkeerd is nie. Mense wat die Here ken, weet wat om te doen en wat om nie te doen nie.

6. ’n Arm mens wat reg leef, is beter daaraan toe as ’n ryke wie se lewe krom en skeef is.

7. ’n Seun wat die woord liefhet, is slim. Hy maak sy pa baie bly. Wie met vrate en dronklappe bevriend is, is vir sy ouers ’n verleentheid.

8. Wie die kuns van geldmaak verstaan, moet hom ook oor die armes ontferm.

9. Wie nie meer na die woord van die Here luister nie se gebede beteken niks nie.

10. Wie verkeerde dinge teen gelowiges beplan, sal self in die put van ellende val. Wie die Here liefhet, sal die goeie van die lewe ervaar.

11. ’n Ryk mens is slim in sy eie oë. ’n Arme wat die lewe ken, kyk dwarsdeur hom.

12. As gelowiges regeer, is daar blydskap. Almal word dan bevoordeel. As slegte mense die mag oorneem, is almal bang. Mense onttrek hulle of emigreer.

13. Wie sy oortredings toesmeer, sal nooit gelukkig wees nie. Wie sy sonde bely en nooit weer slegte dinge wil doen nie, sal die Here se liefde ervaar.

14. Wie die Here altyd liefhet, ervaar blydskap. Wie sy hart hard maak, sal nooit gelukkig wees nie.

15. Soos ’n brullende leeu en ’n honger beer, so is ’n slegte leier wat hulpeloses en armes se regte vertrap. Hy maak hulle lewe net nog moeiliker.

16. ’n Regeerder sonder insig in die regte manier van lewe, sal sy mag misbruik. Wie wanpraktyke haat, sal lank regeer.

17. ’n Moordenaar wat onskuldige mense doodmaak, verdien geen genade nie. Tot sy dood toe sal hy van God verlate wees. Niemand moet hom probeer help nie.

18. Iemand wat reg leef, is veilig in die hand van die Here. Wie verkeerde dinge doen se lewe is ’n nagmerrie.

19. Wie hard werk, het genoeg om te eet. Wie rondstaan en niks doen nie, sal arm word.

20. ’n Betroubare mens ervaar baie seëninge. Wie vinnig ryk wil word, verbrand sy vingers.

21. Om kant te kies in enige saak is verkeerd. Al het jy dit hoe nodig, omkoopgeskenke is ’n gruwel.

22. ’n Suinige en jaloerse mens sal alles doen om ryk te word. Op die ou einde het hy nog steeds niks nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 28