Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 27:9-23 Die Boodskap (DB)

9. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe.

10. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie.

11. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het.

12. ’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende.

13. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is.

14. Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie.

15. Soos ’n irriterende gedrup op ’n reëndag, so is ’n moeilike mens wat net rusie maak.

16. Wie so ’n mens wil verander, probeer verniet. Dit is soos om die wind met jou hande te vang of olie met jou hande te gryp.

17. Yster slyp yster. So vorm mense mekaar.

18. Wie ’n vrugteboom versorg, sal later van sy vrugte eet. Wie hard werk, sal eendag ’n goeie pensioen ontvang.

19. Soos ’n mens sy gesig in ’n spieël sien, so verstaan hy homself in wat hy dink.

20. Mense gaan voortdurend dood. Dit kry geen einde nie. So is ’n mens se begeertes ook. Dit word nooit versadig nie. Alles wat hy sien, wil hy hê.

21. Soos silwer in vuur en goud in die smeltoond gelouter word, so word ’n mens se karakter in die harde leerskool van die lewe gevorm.

22. Al kan jy ’n dom mens met ’n hamer slaan of hom fynmaal, sy domheid kry jy nooit uit hom uit nie.

23. Geld se waarde word minder en dit word ook maklik uitgegee.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 27