Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 17:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Eerder met min klaarkom en gelukkig wees, as om oorvloed te hê en heeltyd te baklei.

2. Iemand wat niks het nie, kan deur harde werk baie bereik. Hy kan selfs ’n hoë pos beklee en belangrike besluite neem.

3. Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is.

4. ’n Mens wat die Here verag, luister graag na smerige praatjies oor seks, geweld en moord. Hy kan nooit genoeg daarvan kry nie. ’n Leuenaar kan ook nie met sy gelieg ophou nie. Hy hou net aan en aan.

5. Wie vir armes se eenvoud lag, spot met die Here. Wie hom in hulle ellende verlustig, sal gestraf word.

6. Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk.

7. Keurige taal hoor jy nie sommer by ’n domme nie. Leuens en vuiltaal verwag jy tog nie van iemand wat jy respekteer nie.

8. Omkoopgeld help mense. Dit kan baie deure vir hulle oopsluit.

9. As jy mense vergewe wat jou te kort doen of sleg van jou praat, verstaan jy God se liefde baie goed. Wie iemand altyd verwyt of hom aan sy skuld herinner, verloor gou al sy vriende.

10. ’n Persoon wat die Here ken, luister as iemand hom op sy foute wys. Hy neem dit ernstig op en dink daaroor na. ’n Dom mens kan jy slaan en slaan, maar hy hou aan om verkeerd te doen.

11. Moeilike mense maak met almal rusie. Op ’n dag sal hulle nog hulle moses teëkom.

12. ’n Woedende leeuwyfie wie se kleintjies van haar af weggeneem is, is nie naastenby so gevaarlik soos al die onsin wat ’n dom mens praat nie.

13. As jy mense wat vir jou lief is, sleg behandel, vernietig jy eintlik jouself. Jy sal ’n baie ongelukkige mens word.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 17