Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 15:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Die Here haat die ongelowiges se slegte dade. Hulle wat opreg leef, het Hy sommer baie lief.

10. Wie die Here verlaat, voel sy straf. Wie teregwysing haat, is al klaar dood.

11. Die Here ken die lewe na die dood baie goed. Hy weet wat in die doderyk gebeur. So ken Hy ook alles wat ons beplan. Niks is vir Hom weggesteek nie.

12. ’n Ongelowige hou niks daarvan dat ander hom op sy foute wys nie. Hy sal ook nooit die geselskap van gelowiges opsoek nie.

13. Blydskap maak ons vrolik. Hartseer kan ons moed knak.

14. ’n Gelowige smag heeltyd na nog meer kennis en insig. ’n Ongelowige is heeltemal tevrede met sy dwase woorde en gedagtes.

15. As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees.

16. Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep ongelukkig te wees.

17. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat.

18. ’n Slegte humeur maak ander gou kwaad. Geduld en sagmoedigheid maak mense rustig en kalm.

19. ’n Luiaard se lewe is sleg. Dit is soos ’n pad vol spykers en gate. Maar ’n gelowige se lewe is soos ’n gelyk pad.

20. ’n Gelowige kind maak sy ouers baie bly. ’n Kind wat die Here verwerp, maak hulle hartseer.

21. ’n Ongelowige se dwaasheid maak hom gelukkig. Hy weet in elk geval nie van beter nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef.

22. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses.

23. ’n Goeie antwoord is waardevol. Dit kan iemand help om die regte besluite te neem. Wat is wonderliker as die regte woord op die regte tyd.

24. ’n Gelowige leefstyl bring baie geluk. Dit kan ons teen baie ellendes beskerm.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 15