Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 11:9-24 Die Boodskap (DB)

9. ’n Ongelowige verwoes ander met sy woorde. ’n Gelowige wat die lewe ken, se woorde help ander wat in die moeilikheid is.

10. As dit met die gelowige goed gaan, is almal baie bly. As ’n slegte mens doodgaan, klink daar oral uitroepe van blydskap op.

11. Wanneer die Here ’n gelowige voorspoedig maak, trek baie mense voordeel uit sy rykdom. ’n Slegte mens se woorde en dade kan ’n hele gemeenskap laat ly.

12. Iemand wat ’n vriend in die openbaar verneder, is ’n hartelose mens. Iemand met ’n fyn aanvoeling vir ander sal eerder swyg.

13. Iemand wat skinderstories loop en versprei, lap ander se geheime uit. ’n Man met integriteit hou ’n geheim vir homself.

14. Waar kennis van die lewe ontbreek, gaan ’n volk onder. ’n Goeie regering se krag lê in sy kundige leiers.

15. Iemand wat sommerso vir ’n vreemde borg staan, kan finansieel swaarkry. Hy wat dit haat om borg te staan, se geld is veilig in die bank.

16. Vir ’n vrou met integriteit is haar goeie naam belangrik. Vir roekelose mense wat niks vir ander omgee nie, is geld die belangrikste van alles.

17. Iemand wat vir ander mense goed is, sal self die vrugte daarvan pluk. Iemand wat niks vir ander omgee nie, vernietig homself.

18. ’n Skurk se optrede bring min lewensvreugde. Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees.

19. Wie die Here opreg dien, ervaar die lewe in al sy volheid. Wie verkeerde dinge doen, is dood, al haal hy nog asem.

20. Mense wat net aan verkeerde dinge dink, maak die Here baie kwaad. Hy is baie gelukkig met hulle wat reg leef.

21. Niks staan vaster as ’n slegte mens se straf nie. ’n Gelowige se nageslag sal gelukkig wees.

22. Iemand sonder insig en die regte lewenstyl is soos ’n vark met ’n goue ring.

23. Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges se drome lei tot frustrasie en ellende.

24. Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 11