Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 10:6-19 Die Boodskap (DB)

6. Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid.

7. Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart. Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet.

8. ’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid.

9. Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende.

10. Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak. ’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang.

11. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd.

12. Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings.

13. Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid.

14. ’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende.

15. ’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel.

16. Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf.

17. Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang.

18. Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas.

19. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 10