Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 4:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Intussen het Boas na die bymekaarkomplek by die ingang van die dorp toe gegaan en daar gaan sit en wag. Toe Elimeleg se naaste familielid, die een oor wie Boas met Rut gepraat het, daar verbykom, het Boas hom geroep en gesê: “Vriend, kom sit hier by my; ek wil graag met jou praat.” Die man het toe nader gestap en gaan sit.

2. Boas het ook tien leiers van die dorp gevra om as getuies by hulle te kom sit.

3. Boas sê toe vir die familielid: “Toe Naomi van Moab af teruggekom het, het sy besluit om die stuk grond wat aan ons familielid Elimeleg behoort het, te verkoop.

4. Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.”Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.”

5. Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.”

6. Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.”

7. In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil.

8. Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee.

Lees volledige hoofstuk Rut 4