Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:31-42 Die Boodskap (DB)

31. Hy het stilletjies ’n boodskap na Abimelek gestuur en vir hom gesê: “Ebed se seun Gaäl en sy mense het in Sigem kom bly en hulle is besig om die stad en sy mense teen jou op te sweep.

32. Bring jou soldate en kom kruip vannag in die veld buite Sigem weg.

33. Môreoggend teen skemer moet julle die stad skielik aanval. As Gaäl en sy soldate teen jou probeer veg, moet jy hulle doodmaak.”

34. Abimelek en sy soldate het toe in die nag in vier groepe verdeel en ’n hinderlaag teen Sigem opgestel.

35. Toe Abimelek en sy soldate vir Gaäl by die stadshekke sien staan, het hulle uit hulle skuilplek gekom.

36. Gaäl het hulle gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die berge af!” Maar Sebul het vir hom gesê: “Dis nie mense nie, dis sommer net die berg se skaduwee wat jy vir mense aansien!”

37. Maar Gaäl het weer vir hom gesê: “Kyk mooi, daar kom mense van die heuwels af. En daar van die waarsêersboom se kant af is nog ’n groep aan die kom.”

38. Toe sê Sebul ewe leedvermakerig vir hom: “Nou waar is jou groot mond dan nou? Jy is mos die een wat gesê het: ‘Wie is Abimelek dat ons sy onderdane moet wees?’ Wel, is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Hier is jou kans, vat nou jou soldate en gaan veg teen hulle.”

39. Gaäl het toe die mense van Sigem gevat om teen Abimelek te gaan veg.

40. Maar Abimelek het hom verslaan en hy moes vlug. Baie mense het daardie dag hulle lewe verloor. Die dooies het tot by die stad se hekke gelê.

41. Abimelek het in Aruma gebly en Sebul het vir Gaäl en sy familie uit Sigem weggejaag en hulle nie langer toegelaat om daar te bly nie.

42. Die volgende dag het Abimelek te hore gekom dat die mense van Sigem beplan het om teen hom te gaan oorlog maak.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9