Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8:15-30 Die Boodskap (DB)

15. Gideon is toe terug na die leiers van Sukkot toe. Daar aangekom, sê hy vir hulle: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my die vorige keer gespot het met die woorde: Het jy dalk al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou moeë soldate kos moet gee?”

16. Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle ’n les geleer deur hulle goed toe te takel met doringtakke en haakdorings, soos hy belowe het.

17. Hy het ook die wagtoring van Pniël platgeslaan en al die mans van die stad doodgemaak.

18. Toe vra Gideon vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mense gelyk wat julle in Tabor vermoor het?”Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk, dit het gelyk of hulle van koninklike afkoms was.”

19. Toe sê Gideon: “Hulle was my eie broers. So seker as wat die Here leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle ook laat leef het.”

20. Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind.

21. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat.

22. Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.”

23. Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle!

24. Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra.

25. “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi.

26. Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie.

27. Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af.

28. Al die Midianiete is deur Israel verslaan. Hulle het nooit van hierdie neerlaag herstel nie. Hierna was daar tydens Gideon se leeftyd - so ongeveer 40 jaar lank - vrede in die land.

29. Gideon seun van Joas is ná die oorlog terug huis toe.

30. Hy het 70 seuns gehad, want hy het baie vroue gehad.

Lees volledige hoofstuk Rigters 8