Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip.

12. Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel.

13. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.”

14. Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!”

15. Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.”

16. Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee.

17. Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen.

18. As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’”

19. Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek.

Lees volledige hoofstuk Rigters 7