Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:25-35 Die Boodskap (DB)

25. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af.

26. Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.”

27. Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen.

28. Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop.

29. Almal het gewonder: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle oral navraag gedoen het, het hulle ontdek dat dit Joas se seun Gideon was.

30. Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!”

31. Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!”

32. Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.”

33. Kort daarna het die Midianiete, die Amalekiete en die mense van die ooste ’n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit. Hulle het oor die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Jisreël.

34. Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het die trompet laat blaas om die Abiësriete vir die oorlog op te roep.

35. Hy het ook boodskappers na die gebiede van Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur om die soldate van hierdie gebiede op te roep om hom te volg. Hulle het toe na hom toe gekom.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6