Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Daar was ’n Leviet wat in die afgeleë gebiede van die berge van Efraim gebly het. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda gaan haal.

2. Hulle twee het probleme gehad en sy het teruggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem. Na ongeveer vier maande

3. het hy besluit om te gaan kyk of hy haar kon oorreed om terug te kom. Hy het sy dienaar en twee donkies saamgevat. By die huis aangekom, het die pa hom die huis ingenooi en hom vriendelik verwelkom.

4. Sy skoonpa het by hom aangedring om ’n ruk by hulle te bly. Hy het ingestem en drie dae daar gebly. Hulle het saam gekuier en geëet en die nag daar oorgeslaap.

5. Op die vierde dag was die man reeds vroeg op en reg om terug te gaan huis toe. Maar sy skoonpa het vir hom gesê: “Eet eers iets, dit sal jou goed doen. Jy kan mos maar ’n bietjie later vertrek.”

6. Hy en sy skoonpa het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die skoonpa sê toe vir hom: “Bly nog ’n nag hier en kuier lekker.”

7. Die man het al op die punt gestaan om te vertrek, maar sy skoonpa het so by hom aangehou dat hy uiteindelik ingestem en die nag daar deurgebring het.

8. Vroeg die môre op die vyfde dag het hy gereedgemaak om te vertrek. Die skoonpa sê toe weer: “Eet eers iets voor jy gaan; jy kan mos vanmiddag ook nog betyds wegkom.” Hulle het toe weer saam geëet.

Lees volledige hoofstuk Rigters 19