Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 14:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Simson sê toe vir hulle: “Kom ek vra julle ’n raaisel. As julle die raaisel binne die sewe dae wat die fees aanhou, kan oplos, sal ek vir julle 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.

13. Maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.”“Reg so,” het hulle gesê, “kom ons hoor wat is jou raaisel!”

14. Hy sê toe: “Uit die een wat eet, kom iets te ete en uit die sterke kom iets soets.” Drie dae later kon hulle nog steeds nie met ’n antwoord na vore kom nie.

15. Op die vierde dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Haal jou man oor om vir ons die raaisel se antwoord te gee. So nie, verbrand ons jou en jou familie. Of het julle ons dalk hierheen genooi om ons te beroof?”

16. Simson se vrou het toe by hom gaan huil en gesê: “Jy het my nie lief nie, jy haat my! Jy het vir my vriende ’n raaisel gevra sonder om eers vir my te sê wat dit beteken.”“Maar ek het dit nie eens vir my pa-hulle vertel nie,” het hy vir haar gesê, “waarom sou ek vir jou die antwoord gee!”

17. Sy het die hele feestyd by hom bly neul daaroor. Op die sewende dag was hy uiteindelik moeg daarvoor en het vir haar die antwoord gegee.

18. Op die sewende dag van die fees, net voor sononder, het die mense van die dorp na Simson toe gekom en vir hom gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie by my vrou gaan neul het nie, sou julle nie die antwoord op die raaisel gekry het nie.”

19. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy is af na Askelon toe. Daar het hy 30 mans doodgemaak, hulle klere uitgetrek en dit vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was so kwaad oor wat gebeur het dat hy terug is na sy ouerhuis toe om daar te gaan bly.

20. Die vrou het toe getrou met die man wat Simson se strooijonker was.

Lees volledige hoofstuk Rigters 14