Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 13:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan met die naam Manoag. Hy en sy vrou was kinderloos omdat sy nie swanger kon raak nie.

3. Daar het toe ’n Boodskapper van die Here aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy kon nog nooit swanger word nie, maar binnekort gaan jy wel swanger word en geboorte gee aan ’n seun.

4. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie.

5. Soos ek gesê het, jy sal geboorte gee aan ’n seun. Sy hare mag nooit gesny word nie, want dié kind sal van sy geboorte af net vir God se diens opsy gesit wees. Dit sal hy wees wat die Israeliete uit die mag van die Filistyne red.”

6. Die vrou het toe vir haar man gesê: “Daar het ’n Boodskapper van God by my aangekom. Hy het net soos ’n engel van God gelyk. Om die waarheid te sê, ek was nogal bang vir hom. Ek het nie vir hom gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het ook nie vir my gesê wat sy naam is nie.

7. Maar hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy gaan geboorte gee aan ’n seun. Jy moet van nou af nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie, want die kind sal van sy geboorte tot sy dood aan God toegewy wees.’”

8. Manoag het toe gebid en vir die Here gesê: “Here, stuur asseblief weer die man van God na ons toe sodat hy vir ons kan verduidelik hoe ons die kind moet grootmaak.”

9. Die Here het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom waar sy alleen in die veld gesit het. Manoag was nie by haar nie.

10. Daarom het sy vinnig na hom toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat nou die dag met my gepraat het, is weer hier!”

11. Manoag is toe dadelik saam met sy vrou daar weg. By die man aangekom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat nou die dag met my vrou gepraat het?”“Ja, dit is ek,” het hy geantwoord.

12. Manoag vra toe vir hom: “As jou belofte waar word, hoe moet die kind optree?”

13. Die Boodskapper van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet seker maak dat sy alles doen wat Ek vir haar gesê het om te doen.

Lees volledige hoofstuk Rigters 13