Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:21-36 Die Boodskap (DB)

21. Maar die Here, die God van Israel, het vir sy volk die oorwinning gegee en hulle het die hele gebied van die Amoriete vir hulleself ingeneem,

22. van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.

23. “Jy sien, dit was die Here, die God van Israel, wat die Amoriete se land vir Israel gegee het.

24. Gaan jy dit nou probeer terugvat? Jy kan hou wat jou god Kemos vir jou gegee het. Maar ons hou alles wat die Here ons God vir ons gegee het.

25. Of dink jy dalk jy is beter as Sippor se seun Balak, die koning van Moab? En tog het hy Israel nooit aangevat oor grond of teen ons probeer oorlog maak nie.

26. Nou wil jy na 300 jaar die saak aanroer! Intussen bly Israel van toe af al in Gesbon en sy omringende dorpe en net so ook in Aroër met sy omringende dorpe en in die dorpe op die walle van die Arnonrivier. Waar kom jy nou skielik vandaan?

27. Ek het niks aan jou gedoen nie. Maar die feit dat jy nou teen my kom oorlog maak, is verkeerd. Laat die Here wat regter is, besluit wie is reg: Israel of Ammon.”

28. Die koning van Ammon het hom egter nie aan Jefta gesteur nie.

29. Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom en hy het deur die gebiede van Gilead en Manasse getrek, verby tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy sy weermag teen die Ammoniete uitgelei.

30. Jefta het ’n plegtige belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U vandag vir my ’n oorwinning oor die Ammoniete gee,

31. sal ek die eerste persoon wat my uit my huis tegemoetkom ná my oorwinning oor die Ammoniete as ’n brandoffer aan U offer.”

32. Jefta het die rivier oorgesteek om teen die Ammoniete te veg. Die Here het hom laat wen.

33. Hy het hulle verslaan van Aroër af tot by ’n gebied naby Minnit; twintig stede altesaam. Ook by Abel-Keramim was daar ’n groot geveg totdat die Israeliete uiteindelik die Ammoniete totaal verslaan het.

34. Toe Jefta by sy huis in Mispa aankom, het sy dogter, sy enigste kind, hom al dansende tegemoetgekom terwyl sy op die tamboeryn speel.

35. Toe hy haar sien, het hy van angs sy klere van sy lyf afgeskeur. “Ag, my dogter!” het hy gekerm. “Jy breek my hart! Hoekom moet dit juis jy wees wat my hierdie smart veroorsaak? Ek het ’n gelofte aan die Here gemaak en ek kan nie nou op my woord teruggaan nie.”

36. Sy sê toe vir hom: “As Pa Pa se woord vir die Here gegee het, moet Pa doen wat Pa belowe het, want die Here het Pa gehelp om Pa se vyande, die Ammoniete, te verslaan.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11