Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 10:8-18 Die Boodskap (DB)

8. Van toe af het die Ammoniete die Israeliete in Gilead, oos van die Jordaan, agtien jaar lank laat swaarkry en hulle erg mishandel.

9. Die Ammoniete het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en teen die stamme van Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid.

10. Uiteindelik het die Israeliete tot die Here gebid. Hulle het vir Hom gesê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die rug vir U, ons God, gedraai en die Baäls aanbid.”

11. Die Here antwoord hulle: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne,

12. die mense van Sidon, Amalek en Maon julle laat swaarkry het, het julle my hulp gevra en Ek het julle gehelp.

13. Ten spyte daarvan het julle nou weer die rug vir My gedraai en ander gode aanbid. Daarom gaan Ek julle nie weer help nie.

14. Gaan huil by die gode wat julle vir julle uitgesoek het. Laat hulle julle help noudat julle in die moeilikheid is.”

15. Die Israeliete het by die Here bly pleit en vir Hom gesê: “Ons het sonde gedoen! Doen met ons net wat U wil, maar red ons asseblief vandag!”

16. Hulle het ontslae geraak van die ander gode en weer die Here aanbid. Die Here is deur hulle lyding aangeraak.

17. Op daardie tydstip het die Ammonitiese weermag gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het in Gilead kamp opgeslaan. Die Israeliete het ook vir oorlog gereedgemaak en hulle kamp by Mispa opgeslaan.

18. Die leiers van Gilead het vir mekaar gesê: “Wie gaan ons soldate in die oorlog teen die Ammoniete lei? Hy moet in elk geval dan die leier van al Gilead se mense word.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 10