hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 10 Die Boodskap (DB)

Tola en Jaïr

1. Na Abimelek se dood het Tola seun van Puwwa, die kleinseun van Dodo, tot Israel se redding gekom. Hy was ’n lid van die stam Issaskar en het in die dorp Samir in die berge van Efraim gebly.

2. Hy was 23 jaar lank die leier van Israel. Na sy dood is hy in Samir begrawe.

3. Na Tola se dood het Jaïr uit Gilead 22 jaar lank as leier in Israel opgetree.

4. Jaïr het 30 seuns gehad wat elkeen op ’n jong donkie rondgery het. Hulle het ook 30 dorpe in die gebied van Gilead gehad wat steeds bekend staan as die tentdorpe van Jaïr.

5. Na sy dood is Jaïr in Kamon begrawe.

Die Ammoniete verdruk Israel

6. Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Hulle het die Baäls en die Astartes asook die gode van Sidon en dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne aanbid. Hulle het die rug vir die Here gedraai en Hom glad nie meer gedien nie.

7. Die Here het kwaad geword vir die Israeliete en hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete.

8. Van toe af het die Ammoniete die Israeliete in Gilead, oos van die Jordaan, agtien jaar lank laat swaarkry en hulle erg mishandel.

9. Die Ammoniete het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en teen die stamme van Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid.

10. Uiteindelik het die Israeliete tot die Here gebid. Hulle het vir Hom gesê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die rug vir U, ons God, gedraai en die Baäls aanbid.”

11. Die Here antwoord hulle: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne,

12. die mense van Sidon, Amalek en Maon julle laat swaarkry het, het julle my hulp gevra en Ek het julle gehelp.

13. Ten spyte daarvan het julle nou weer die rug vir My gedraai en ander gode aanbid. Daarom gaan Ek julle nie weer help nie.

14. Gaan huil by die gode wat julle vir julle uitgesoek het. Laat hulle julle help noudat julle in die moeilikheid is.”

15. Die Israeliete het by die Here bly pleit en vir Hom gesê: “Ons het sonde gedoen! Doen met ons net wat U wil, maar red ons asseblief vandag!”

16. Hulle het ontslae geraak van die ander gode en weer die Here aanbid. Die Here is deur hulle lyding aangeraak.

17. Op daardie tydstip het die Ammonitiese weermag gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het in Gilead kamp opgeslaan. Die Israeliete het ook vir oorlog gereedgemaak en hulle kamp by Mispa opgeslaan.

18. Die leiers van Gilead het vir mekaar gesê: “Wie gaan ons soldate in die oorlog teen die Ammoniete lei? Hy moet in elk geval dan die leier van al Gilead se mense word.”