Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:22-29 Die Boodskap (DB)

22. Die Here het die afstammelinge van Josef gehelp toe hulle Bet-El aangeval het.

23. Hulle het verkenners Bet-El toe gestuur. Vroeër was Bet-El ook bekend as Lus.

24. Hulle het ’n man uit die stad sien kom en vir hom gesê: “As jy ons wys hoe om die stad in te neem, sal ons jou goed behandel.”

25. Hy het hulle toe gewys wat die beste manier sou wees om dit te doen. Die afstammelinge van Josef het toe die stad ingeneem en al die mense daarin doodgemaak, behalwe hierdie man en sy familie.

26. Hierdie man het later na die gebied van die Hetiete toe getrek en vir hom daar ’n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.

27. Die stam van Manasse kon nie daarin slaag om die dorpe Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met die dorpe rondom hulle in te neem nie, want die Kanaäniete wat in daardie gebiede gebly het, was te sterk.

28. Later het die Israeliete sterker geword en toe het hulle dit reggekry om die Kanaäniete te dwing om vir hulle te werk. Tog het die Kanaäniete steeds in die gebied bly woon.

29. Dieselfde het ook met die stam van Efraim gebeur. Hulle kon dit ook nie regkry om die Kanaäniete wat in Geser gebly het te verslaan nie. Daarom het die Kanaäniete saam met hulle daar bly woon.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1