Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 35:7-25 Die Boodskap (DB)

7. Slegte mense wil my sonder rede tot ’n val bring.Ek het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wil my vernietig.

8. Laat ’n ramp hulle skielik tref sonder dat hulle mooi weet wat aan die gang is. Laat die rampe wat hulle vir ander mense beplan, oor hulle kom. Laat hulle self in die gat val wat hulle vir my gegrawe het.

9. Ek is baie bly oor wat die Here doen. Ek sal opgewonde jubel omdat Hy my lewe red.

10. Alles in my sal uitroep: “Daar is niemand soos die Here nie!Dis net U wat mense wat swak is in hulle nood red.U bevry hulle van mense wat baie sterker is as hulle.U help swak mense uit die kloue van ’n klomp diewe.”

11. Die mense wat my wil seermaak, staan reg om leuens oor my te vertel.Hulle praat kwaad teen my.Hulle beskuldig my van ’n klomp goed waarvan ek niks weet nie.

12. As ek vir hulle goed is, betaal hulle my terug met slegte dinge. Hulle wil my om elke hoek en draai bykom.

13. Toe hulle siek was, was ek hartseer oor hulle lyding. Ek kon selfs nie eet nie. Ek het gevas.Die hele tyd het ek sonder ophou vir hulle gebid.

14. Ek het hulle behandel soos my beste vriend, soos my broer.Ek het oor hulle gehuil soos ’n mens oor jou ma treur wanneer sy doodgaan. Ek was krom van hartseer.

15. Noudat probleme my skielik onderkry, is daardie selfde klomp baie bly. Hulle span saam teen my.Almal van hulle het lekker oor my geskinder. Hulle het my verskriklik beledig. Hulle kry nie end nie.

16. Toe ek struikel, het hulle daaroor gelag. Hulle gee niks vir my om nie. Hulle dreig my.

17. Here, hoe lank gaan U nog toelaat dat daardie mense my laat swaarkry?Red my kosbare lewe uit die kloue van daardie spul.Hulle is soos ’n klomp honger leeus wat hulle prooi wil opeet.

18. Dan sal ek U prys as al u kinders weer saam is!Tussen die menigte gelowiges sal ek U loof!

19. Moenie dat ander bly wees as ek swaarkry nie.Hulle haat my sonder dat ek iets aan hulle gedoen het.Keer tog dat hulle bly is omdat dit sleg gaan met my.

20. Hulle wil nie in vrede met my leef nie. Hulle vertel lelike dinge oor my.

21. Hulle beskuldig my van goed wat ek nooit gesê of gedoen het nie.

22. Here, U weet tog wat regtig gebeur het!Moenie die saak net so laat nie! Moenie my alleen los nie, Here!

23. Kom verdedig my. Kom op vir my, Here.U is tog my God. Help my.

24. U tree altyd reg op, Here, my God. Tree ook nou regverdig teenoor my op.Moenie dat hulle dit geniet as ek swaarkry nie.

25. Daardie klomp moenie onder mekaar sê: “Goed so, presies net wat ons wou hê, het met hom gebeur” nie.Hulle moenie spog en sê: “Ons het hom tot ’n val gebring” nie.

Lees volledige hoofstuk Psalms 35