Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 7:9-27 Die Boodskap (DB)

9. Beheer jouself en moenie jou humeur verloor nie; dit is net dwase mense wat so maak.

10. Moet nooit vra waarom dit in die goeie ou dae beter was as nou nie, want dit is nie ’n goeie vraag nie.

11. Om baie te besit en ook te weet hoe om reg te leef is wonderlik.

12. Geld kan jou baie help, so ook die insig om reg te leef. Insig is beter, want dit kan jou ook gelukkig maak.

13. Kyk na God se werk in die wêreld. Wie kan reguit buig wat Hy krom gemaak het?

14. God laat die goeie en die slegte gebeur. Of dit goed of sleg gaan, onthou, albei kom van God af. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie.

15. In my sinlose lewe het ek gesien dat goeie mense vroeg doodgaan, terwyl slegte mense lank leef. Dit maak nie eintlik saak of jy goed of sleg leef nie.

16. Moet daarom nie te goed of te regverdig wil wees nie, want jy kan jouself vernietig.

17. Moet ook nie te sleg of te onregverdig leef nie, want dan kan jy dalk te vroeg doodgaan.

18. Kry ’n middeweg, anders word die lewe ondraaglik. Leef met respek vir God, dan sal jy weet hoe om te leef.

19. Wysheid en die insig hoe om reg te leef maak ’n mens sterker as die magtigste leiers.

20. Niemand doen net goed sonder om ook verkeerd te doen nie.

21. Moenie na alle skinderpraatjies luister nie, want dan moet jy dalk jou werkers se beledigings aanhoor.

22. Onthou, jy het ook al baie keer mense beskinder en beledig.

23. Ek het al my kennis en insig gebruik om die lewe te verstaan, maar ek kon nie.

24. Wie weet wat die sin van die lewe is? Dit is te moeilik vir ’n mens om te ontdek.

25. Ek het toe weer begin studeer en navorsing oor wysheid en dwaasheid gedoen. Ek wou weet hoe ’n mens moet leef en wat die gevolg van ’n slegte lewe is.

26. Ek het wel iets ontdek wat erger as die dood is. En dit is dat ’n slegte vrou soos ’n valstrik is. Haar hart is soos ’n vangnet en haar hande soos boeie. As God van jou hou, sal jy van haar kan ontsnap, maar die dwaas val in haar strikke.

27. Al hierdie kennis en insig het ek stukkie vir stukkie gekry toe ek die lewe bestudeer het.

Lees volledige hoofstuk Prediker 7