Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 2:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Ek het toe besluit om die lewe te geniet en uit te vind wat vreugde nou eintlik is. Ook dit was ’n sinlose gejaag na wind.

2. Ek het ontdek dat om te lag nie veel sin het nie en dat vreugde nie veel beteken nie.

3. Omdat ek na insig in die lewe gesmag het, het ek my toe aan wyn en genot oorgegee. Ek wou vasstel wat goed is vir ’n mens en wat nie.

4. Ek het toe groot projekte aangepak: ek het huise gebou, wingerde aangeplant,

5. parke en tuine uitgelê, verskillende vrugtebome geplant en

6. watervore uitgekap om ’n groot bos met groen bome nat te lei.

7. Verder het ek ’n groot klomp werkers, mans en vroue, in diens geneem en hulle kinders my eiendom gemaak. Ek het ook groot troppe vee vir my gekoop, meer as wat enige koning voor my gehad het.

8. Hope silwer en goud het ek bymekaargemaak. Ek het talle sangers en sangeresse aangestel, en baie mooi meisies gekry om my gelukkig te hou.

9. Naderhand was ek groter en belangriker as enigiemand wat ooit in Jerusalem gewoon het. My soektog na wysheid en insig het ek egter nooit verloor nie.

10. Wat ek in dié tyd wou gehad het, het ek gekry. Ek het myself niks ontsê nie. En ek was gelukkig oor wat ek alles bereik het. Dit was die beloning vir al my moeite.

11. Toe het ek alles wat ek gedoen het, krities begin ondersoek. Oor my werk en inspanning het ek baie nagedink. En ek het besef dat alles sinloos is. Dit is bloot net ’n mors van tyd. In hierdie wêreld is daar absoluut géén sin nie.

12. Ter wille van my opvolger het ek toe besluit om goed na te dink oor die nut van wysheid en dwaasheid.

13. En my slotsom? Soos ’n lig in die donker beter is as niks nie, so is wysheid beter as domheid.

Lees volledige hoofstuk Prediker 2