Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 8:15-22 Die Boodskap (DB)

15. Hierna mag die Leviete hulle werk doen in en om die tent waar Ek aanbid word.

16-18. “In die plek van al die eersgebore seuns van die Israeliete het Ek nou die Leviete op ’n spesiale manier vir Myself gevat. Toe Ek al die eersgebore kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke oudste kind in Israel, mense en diere ingesluit, as my eiendom opgeëis. In plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My.

19. Ek stel die Leviete tot die beskikking van Aäron en sy seuns sodat hulle hulle werkslas kan verlig. Hulle is ’n geskenk van die Israeliete aan Aäron en sy seuns om in hulle plek by die tent van aanbidding te werk. Op dié manier sal dit die Israeliete beskerm van enige straf wat hulle kan tref as hulle self te na aan die tent kom waar Ek aanbid word.”

20. Moses en Aäron en al die Israeliete het presies alles met die Leviete gedoen wat die Here gesê het.

21. Die Leviete het hulleself en hulle klere skoongewas en Aäron het hulle aan die Here opgedra soos ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word. Hy het ook namens hulle by die Here verskoning gevra vir hulle sondes en hulle so gereed gekry vir hulle diens in die tabernakel.

22. Die Leviete het van toe af onder leiding van Aäron en sy seuns hulle werk gedoen in die tent waar die Here aanbid word. So het hulle al die Here se opdragte aangaande die Leviete gehoorsaam.

Lees volledige hoofstuk Numeri 8